肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Limpopo-gesin verkoop trekker om dogter te help om PhD in agriwetenskappe te verwerf
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 27/03/2024

Dit het die verkoop van een van haar pa se twee trekkers en baie harde werk gekos vir dr Mosima Mabitsela om vandeesweek met 'n PhD in agronomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) te gradueer. Maar vir haar stralende pa, Mamothatha Mabitsela, wat sy gesin as 'n bestaansboer in Limpopo onderhou, was die besluit om een van sy waardevolle plaasvoertuie te verkoop om sy dogter te help om haar droom na te jaag, die moeite werd. “Ek is trots, trots, trots. Ek sou alles verkoop het wat ek het."

Mabitsela, die eerste in haar familie wat met 'n doktorsgraad kwalifiseer, kom uit 'n lang lyn van boere en een van haar vroegste herinneringe is hoe sy saam met haar ouma in die veld gaan werk het. Sy ken die impak van klimaatsverandering en uiterste toestande op landbouproduksie maar al te goed. Dit is dus geen verrassing dat hierdie aspirant-agronoom van 'n landboustreek in Suid-Afrika se mees noordelike provinsie 'n groot deel van haar lewe daaraan sou wy om kostedoeltreffende en groen boerdery-oplossings te vind nie. “Voedselonsekerheid is 'n groot uitdaging op die Afrika-kontinent, so om vorendag te kom met volhoubare maniere om te boer kan 'n manier wees waarop ek 'n verskil kan maak."

Omdat sy grootgeword het in 'n gesin wat hulle met boerdery bemoei, was die bywoning van die Harry Oppenheimer-landbouskool in Mokopane in Limpopo die natuurlike volgende stap vir dié ontluikende landbouer. Mabitsela het daarna haar voorgraadse studies en MSc aan die Universiteit van Zoeloeland voltooi. Sy het besluit om na 'n nuwe provinsie te trek vir haar doktorsgraad – van KwaZulu-Natal na die Wes-Kaap – omdat die US “die beste landboufakulteit" het. Om van 'n kleiner universiteit af te kom waar die meeste studente Zoeloe gepraat het, was nogal 'n kultuurskok, erken sy.

Maar Mabitsela, wat haarself as hoogs gemotiveerd en gedissiplineerd beskryf, sê sy moes by haar nuwe omgewing aanpas. Dit was uitdagend om soveel tyd weg van haar gesin in Limpopo deur te bring, maar haar toesighouer het haar deurgaans ondersteun. Die geld van die verkoop van haar pa se trekker was die begin en het dit vir Mabitsela moontlik gemaak om bykomende finansiering te kry – insluitend 'n beurs van die US – sodat sy op haar studies kon fokus. Sy was vas van plan om akademies suksesvol te wees en het dikwels haar studies bo die maak van vriende gestel. Maar die opofferings het vrugte afgewerp en sy kan nou met trots na haar landelike gemeenskap terugkeer as dr Mabitsela, toegerus om haar kennis oor klimaatslim boerdery te deel.

Vir haar PhD het Mabitsela teruggekeer na haar wortels om te bestudeer hoe die inheemse Bambara-grondboon in 'n laekoste, klimaatslim aeroponika-stelsel (waar plante sonder grond gekweek word) en in saagselgroeimediums sou vaar. Sy het saam met haar toesighouer, dr Ethel Phiri, gewerk om die peulgewas te kweek, wat volgens haar een van haar "trooskosse" as kind was. Hulle het dit in 'n eksperimentele kweekhuisgebaseerde aeroponika-stelsel met behulp van 'n generiese Internet van Dinge (IoT)-platform gedoen. Sy sê die grondboon kan 'n deurslaggewende rol speel om gemeenskappe se afhanklikheid van omgewingsgevaarlike monogewasse soos koring, rys en mielies te verminder.

Die resultate het getoon dat Bambara-grondbone wat in aeroponika verbou word, beter presteer wat planthoogte en chlorofil-inhoud betref as dié wat met 'n tradisionele hidroponika-tegniek (saagsels/drupbesproeiing) verbou word, terwyl die landrasse wat in saagsels gekweek is, meer blare gehad het as dié wat in aeroponika verbou is.

“Die aeroponika- en IoT-stelsels word voorgestel as 'n oplossing om bestaansboere in landelike gemeenskappe te voorsien van 'n alternatiewe en volhoubare metode om onderbenutte gewasse te verbou om hulleself en hul gemeenskappe te onderhou," het Mabitsela opgemerk in haar bewys-van-konsep wat verlede jaar in die vaktydskrif Heliyon verskyn het.

Waar sy nou as 'n landbou-intern by AbInBev werk, is haar raad aan studente wat in agronomie of die wetenskap van gewasproduksie belangstel, dat hulle gereed vir uitdagings moet wees. "Wees gereed om te leer, want agronomie is divers. Wees entoesiasties en gryp elke geleentheid aan wat oor jou pad kom en wat jou sal help om jouself te ontwikkel."

? Foto: Stefan Els