肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bereken die werklike koste van wanvoeding op ‘n land se ekonomie, sê prof. Simba Sibanda
Outeur: Anneke Muller
Gepubliseer: 08/11/2023

In Afrika is te veel voedselverwante beleidstukke eintlik niks minder as blote wenslysies nie. Om werk te maak daarvan moet hulle omgesit word tot uitvoerbare wetgewing en ondersteun word met genoegsame befondsing op ‘n nasionale en subnasionale vlak. Dit sal die kontinent se mense beskerm teen honger en ‘n gebrek aan voedsame kossoorte. So het prof Simba Sibanda, aan die spits van inisiatiewe rondom nutri?nt-sensitiewe landbou van die Food, Agriculture and Natural Resources Policy Analysis Network (FANRPAN), gesê toe hy die Suider-Afrikaanse Voedseldialoog-sessie by die Universiteit Stellenbosch toegespreek het.

Die dialoogreeks bring invloedryke stemme uit verskillende sfere van Suider-Afrika se voedselsisteem bymekaar om op ‘n kreatiewe manier oor sistemiese kwessies te gesels, en om vernuwende denke en aksies oor komplekse sosiale uitdagings te bewerkstellig. Dit word gesamentlik aangebied deur die Southern Africa Food Lab, ‘n inisiatief van die US Fakulteit AgriWetenskappe, in samewerking met ander fakulteite soos Regsgeleerdheid, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.|

As gasspreker het prof Sibanda uitgebrei oor die diskonneksie wat dikwels bestaan tussen die landbousektor en die voorsiening van voedsame kos. By FANRPAN oordink hy hierdie kwessies gereeld in pogings om lande te help om voldoende voeding deel te maak van landbouverwante ontwikkelingsprogramme, strategie? en beleidstukke. Sodoende word landbouprogramme en beleid in Afrika versterk om beter voedingsverwante uitkomste te kan lewer. 
Volgens prof Sibanda wys statistieke dat daar tot 2014 wêreldwyd vordering gemaak is met die daarstelling van voedselsekuriteit.

Ongelukkig het sake sedertdien agteruit gegaan. Volgens die Global Nutrition-verslag van 2023 het 2.37 miljard mense (29.3%) wêreldwyd in 2021 hongerte in ‘n matige of meer ernstige mate ervaar. Afrika is die enigste wêreldstreek waar wanvoeding in absolute syfers toegeneem het. Erge gebrekkige voedselsekuriteit is veral aan die toeneem, met die armes wat armer word. 

Een positiewe punt uit die Verslag is dat die voorkoms van vertraagde groei (sogenaamde verdwerging of “stunting”) onder kinders jonger as vyf jaar oud van 33.1% in 2000 tot 22% in 2020 afgeneem het. 

Prof Sibanda het gesê dat gebrekkige voedselsekuriteit vir hom “’n vroulike gesig het”. Sy siening word deur statistieke uit die Verslag ondersteun, waarvolgens 31,9% van vroue wêreldwyd dit op ‘n een of ander manier ervaar, in vergelyking met 27.6% van mans. 

Volgens die Verslag het wanvoeding ‘n wesenlike impak op die voorkoms van siektes wêreldwyd, en swak di?te tot 20% (11 miljoen) van sterftes tot gevolg het. Die ander ekstreem is mense wat te veel eet. Die persentasie van oorgewig kinders jonger as vyf jaar oud het van 5.4% in 2000 tot 5.7% in 2020 gestyg. Onder volwassenes het dit van 8.7% in 2000 tot 13.7% in 2016 gestyg. Prof Sibanda het uitgewys dat in die proses probleme soos nie-aanmeldbare siektes veroorsaak word.

Swak voeding as ‘n ekonomiese kwessie 

Dis nie noodwendig dat mense wat genoeg kos het om te eet ook die nodige voedingswaarde daaruit gaan kry nie, het prof Sibanda uitgewys. 

“Dis werklik moontlik om in dieselfde huishouding kinders te hê wat nie na wense groei nie, en ook ‘n ouer wat oorgewig of ernstig oorgewig is.”

Kinders se kognitiewe ontwikkeling ly skade wanneer hulle nie kleintyd genoeg gesonde kos inkry nie, en daarom nie na wense kan groei nie. As volwassenes word hulle dikwels diegene heelwat swakker in die werkplek vaar, gemeet aan diegene wat grootgeword het in huise waar genoeg gesonde kos ge?et is.  
“Ons mense presteer nie tot hul maksimum nie. Dit kom teen ‘n massiewe ekonomiese verlies. Daarby kos dit ekstra vir die gesondheidsektor om die nagevolge van wanvoeding te moet hanteer,” het prof Sibanda uitgewys.

Daarom moet die impak van wanvoeding bekyk word in terme van die werklike koste wat dit op ‘n land se ekonomie en groeimoontlikhede het.

“In Afrika veroorsaak dit ‘n gemiddelde verlies van 11% in die Bruto Binnelandse Produksyfers (BBP). In sommige lande kan dié verlies tot 20% wees. Lande verloor miljarde. Ongelukkig laat dit nie enige waarskuwingsligte by beleidmakers flikker nie,” het hy gesê.

Beleggings in die verskaffing van genoegsame voeding het ‘n positiewe impak, met elke een dollar wat so belê word wat omgesit kan word in 16 dollar se waarde vir die ekonomie.

“Dit is so duidelik soos daglig: lande kan nie bekostig om nie in beter voeding te belê nie. Hulle moet dit eenvoudig doen as hulle moontlike ekonomiese verliese wil keer,” het prof Sibanda benadruk.

Hy het vir die gehoor vertel dat heeltemal te veel beloftes wat lande by die onlangse VN Voedselberaad gemaak het nog tot niks daadwerkliks uitgeloop het nie. Kapasiteitsprobleme en swak tegniese kennis bly ‘n meulsteen, en daarom sukkel dit om selfs die beste moontlike planne uit te rol as praktiese hulpmiddels waardeur voeding versterk kan word. Sulke le? beloftes is jammer, siende dat voeding sentraal staan tot die bereiking van minstens 12 van die 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte. 

Prof Sibanda het gesê dat beter voeding ‘n positiewe invloed kan hê op gesondheid, opvoeding en die versterking van vroue se posisies in die samelewing, en dat dit armoede en ongelykhede kan help verlig. Aspekte soos armoede, ongelykhede, gebrekkige toegang tot water, sanitasie en higi?niese geriewe, ondergemiddelde onderwys, voedselsisteme en sosiale beskerming, asook klimaatsverandering en die landbousektor be?nvloed alles uiteindelike voeding.

Teikens wat rondom die verbetering daarvan gestel word moet ingebed wees in die ontwikkelings- en sosiale sektore en departemente waarin baie regerings tot 30% van hul begrotings spandeer. Prof Sibanda was egter bekommerd oor hoe talle regerings hul begrotings spandeer, en die kwaliteit van die programme en instrumente wat hulle vir hul geld ontvang.  

Hy het gesê dat verbeterde voeding deur verskillende sektore aangespreek moet word, en dat dit nie in isolasie opgelos kan word nie. Hy reken dis ‘n fout om voedselverwante kwessies onder een sektor of een departement te skik, soos wat die geval in baie lande is. Dit veroorsaak dikwels dat ander departemente nie wil saamwerk nie. Groter sukses word behaal wanneer lande voedselrade in die Presidensie posisioneer, of binne kantore met ‘n soortgelyke statuur. Leierskap is daarom baie belangrik.

Verseker genoegsame hoeveelhede voedsame kos

Dis nie net boere wat moet sorg dat genoeg voedsame kos beskikbaar is nie. Alle rolspelers in die voedselwaardeketting het ‘n rol te speel hierin.

‘n Suksesvolle voedselsektor en -waardeketting bestaan uit talle verweefde aspekte. Dit sluit primêre produksie wat op plase geskied in, asook aspekte rondom die na-oes hantering van kos, die prosessering daarvan, voedselveiligheid en die infrastruktuur wat nodig is vir die optimale funksionering van elkeen van dié skakels. 

Prof Sibanda het sy kommer uitgespreek die verwerking van voedsame kossoorte tot so ‘n mate dat dit sy voedingswaarde verloor. Dan moet dit weer teen ‘n bykomende koste gefortifiseer word. Hy was ook bekommerd oor lande wat ‘n groter premie daarop sit om aanvullings aan hul bevolkings te gee om wanvoeding aan te spreek, eerder as om te sorg dat genoeg gesonde kos geproduseer kan word. 

“Ons moet weer die boustene bekyk. Aanvullings is nie kos nie; hulle kan slegs aanvullend tot kos gebruik word.”

Hy het gevoel dat daar ‘n diskonneksie bestaan tussen landbouontwikkelingsprogramme en voeding, ten spyte daarvan dat die landbousektor so ‘n wesenlike rol speel in die verskaffing van veilige, voedsame en bekostigbare kos. Sulke programme fokus tipies eerder op maniere om produktiwiteit, produksie en inkomstestrome te verbeter, eerder as om aspekte rondom die voedingswaarde van kos te versterk. 

“Dis ‘n verkeerde aanname dat as jy genoeg geld het, jy genoeg kos sal hê, en dat voeding noodwendig opgelos is. Landbou moet verander, meer voeding-sensitief raak en help om baie van die SDG’s te bereik.”

Prof Sibanda het gesê dis nodig om voedselproduksie op huishoudelike vlak te verbeter, deur byvoorbeeld groentetuine en stedelike tuinprojekte te dryf. Bekostigbare voedselproduksie, gesondheid en ander nie-eetbare items moet verseker word, en vroue bemagtig word. 

“Dit is goed vir ‘n familie en veral vir die kinders in ‘n gesin as vroue meer besluite rondom kos kan maak,” het hy verduidelik. 

Regerings wat genoegsaam belê in beter landbouproduksie kan werklike kospryse help laag hou, sonder om boere se winsmarges te belemmer. Geleenthede bestaan regdeur die landbouwaardeketting vir groei wat ingestel is op die verskaffing van meer voedsame kossoorte.

“Wanneer die landbou groei, danksy beleid, baat die hele bevolking,” het prof Sibanda bygevoeg.

Swak beleid

Prof Sibanda het egter Afrika se onvermo? om voedselsekuriteit en genoegsame voedsame kos te verskaf gelê voor die deur van swak beleide en strategie?: “As beleide nie in plek is nie, en nie ondersteun word deur die nodige hulpbronne nie, sal jy nie sommer enige veranderinge sien wat wyer kan uitkring as net die invloed van loodsprojekte nie.”

As bewys hiervan het hy verwys na opnames wat voor COVID-19 gedoen is in 11 ledelande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Onder meer is gekyk hoe hulle inskakel in streekswye beleidsraamwerke. Die opname het belangrike gapings in die verskaffing van genoeg voedsel en gesonde kos uitgewys. 

“Teen 2020 het die meeste lande nog nie eens aanpassings rondom die impak van klimaatsverandering in hul strategie? ingesluit nie,” het hy onder meer genoem.

Volgens ‘n studie oor beleidsraamwerke in lande in Sub-Sahara Afrika verhoog die kanse op  wanvoeding, die voorkoms van obesiteit en nie-aanmeldbare siektes wanneer dit eerder die produksie van energieryke grane as voedsame kossoorte bevorder. 
“Beleidmakers neig om eerder op kalorieryke voedselsekuriteit te fokus, as om gesonde voeding te prioritiseer,” het hy bygevoeg. 
Sake word verder belemmer deur die gebrekkige bemagtiging van vroue en betrokkenheid vanaf die jeug, asook swak leierskap en bestuur. Dis belangrik om teikens rondom die bevordering van voeding, vroue en die jeug te stel, en te monitor dat dit wel bereik word. 

Prof Sibanda het gewaarsku teen monokultuur gewasproduksie. Hy het gevra dat die fokus eerder op die verbouing van ‘n groter verskeidenheid kossoorte geplaas word, en dat verseker word dat kinders tussen 6 en 17 jaar oud ook toegang tot genoegsame voedsame kos sal hê.

Hy het onderstreep dat gebrekkige befondsing telkens ‘n stokkie steek voor die implementering van selfs die heel beste beleide, strategie? en programme.

“Daarsonder kan mens nie verwag dat beleid enigsins in werking gestel kan word nie. Daarsonder sal Afrika slegs wenslysies hê. Wetgewing moet deur parlemente aanvaar word wat hulpbronne kan ontsluit, en sodat daar verantwoording daarvoor gedoen kan word.”

Volgens prof Sibanda word nie genoeg eienaarskap van programme geneem wanneer dié danksy skenkingsagentskappe befonds word nie. Dis ook geen verrassing dat min kom van die planne van konsultante waarvoor daar duur betaal word, maar wat nie die mening van die mense wat dit moet bedien insluit nie. 
Prof Sibanda het gesê Suid-Afrika is ‘n voorbeeld van ‘n land wie se “planne op ‘n nasionale vlak goed lyk, maar op ‘n subnasionale vlak, op munisipale vlak, uitmekaar val”. Dit gebeur dikwels weens ‘n gebrek aan genoegsame toegewysde fondse, en te min mense wat die inwerkingstelling van inisiatiewe op sub-nasionale vlak dryf. 

‘n Getransformeerde voedselstelsel is nodig om genoeg goedkoop, veilige en gesonde kos te verskaf. Vroue en jongmense moet daardeur bemagtig word, en insette moet vanaf die publiek verkry word. Rolspelers in die voedselsisteem moet opleiding ontvang. Hulle moet ook verantwoordbaar gehou word, en uitgedaag word om hul werk ernstig op te neem. Inisiatiewe moet onder een nasionale leierskapskapstruktuur resorteer, sodat genoegsame ko?rdinasie en monitering verseker kan word. 

Insentiewe moet in plek gestel word om die produksie van ‘n verskeidenheid gesonde voedselsoorte te bevorder. Aan die ander kant moet ongesonde kos meer dikwels belas word as wat tans die geval is. 

Hy het ook gevra dat meer navorsing op verskillende terreine gedoen word om voorstelle verder te ondersteun.

Foto deur: Henk Oets