肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Jaar van transformasie: SciMathUS vier studenteprestasies
Outeur: Janice Johannes
Gepubliseer: 24/10/2023

Meer as 133 studente het in 2023 'n lewensveranderende reis aangepak deur die uitdaging te aanvaar om die universiteitsvoorbereidingsprogram SciMathUS te voltooi en sodoende hulle toekoms 'n beter koers te laat inslaan. Hulle prestasies en die diepgaande impak van die program is op 20 Oktober by 'n swierige jaareindgeleentheid by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) gevier.

Prof Michael le Cordeur, visedekaan vir Onderrig en Leer van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde, het die gaste verwelkom. Hy het die SciMathUS-studente geloof wat, danksy die Universiteit se #VeranderLewens-veldtog en ruimhartige skenkersteun, die terugslae in hulle lewens te bowe gekom en hulle tweede kans op sukses ten volle benut het.

Die SciMathUS-programbestuurder en waarnemende direkteur van die Universiteit Stellenbosch Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP), me Nokwanda Siyengo, het hierby aangesluit deur die klas van 2023 geluk te wens met hulle suksesvolle reis van persoonlike groei en selfontdekking. Sy het hulle aangemoedig om veerkragtig te wees en in die jare wat voorlê as ambassadeurs vir SciMathUS op te tree.

Verteenwoordigers van die verskillende SciMathUS-strome het ook 'n spreekbeurt ontvang. Faith Mmusi, 'n verteenwoordiger van groep A , het die gehoor daaraan herinner dat terugslae dikwels die weg baan na sukses. Sy het van haar persoonlike reis vertel en oor die uitdagende dog bevredigende jaar in die program besin. “As iets jou nie uitdaag nie, sal dit jou nie verander nie," het sy gesê. Groep B-verteenwoordiger Uphakeme  Mhlongo  het die dosente en borge vir hulle waardevolle ondersteuning bedank en haar medestudente aangemoedig om die lesse wat hulle in SciMathUS geleer het altyd met hulle saam te dra. Abigail Joubert van groep C (Rekeningkunde) het haar dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid wat SciMathUS bied, en opgemerk dat die program nie net studente se akademiese vaardighede verbeter nie, maar ook 'n gevoel van samehorigheid en ondersteuning skep. “Dankie aan ons borge en skenkers, want julle het ons lewens op soveel meer maniere as net akademies verander," het sy gesê.

Die ander sprekers het mentors en fasiliteerders van SciMathUS ingesluit. Me Kelebogile Kedijang, 'n mentor wat self in 2018 die program voltooi het, studeer tans vir die graad HonsBSc in Wynbiotegnologie. Sy het benadruk hoe waardevol die program is om studente 'n tweede kans te bied om toegang tot die ho?r onderwys te bekom, en opgemerk dat die mentors en mentees ewe veel by mekaar geleer het. Fasiliteerder dr Janina Theron het op haar beurt gesê sy is opgewonde oor die studente se toekoms en die impak wat hulle beslis op die samelewing sal hê.

Die SciMathUS-jaareindgeleentheid was méér as 'n viering van akademiese prestasies; dit was ook 'n vertoonvenster vir die studente se veerkragtigheid en groei. Die program bewys dat 'n tweede kans soms ál is wat jy nodig het om lewens waarlik te transformeer.