肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Frederik Van Zyl Slabbert-lesing: Ouditeur-generaal speel oop kaarte oor goeie staatsbestuur
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 18/08/2023

??“Goeie staatsbestuur is die grondslag waarop 'n suksesvolle land gebou word. Dit is nie maar net nog 'n gonswoord nie, maar 'n verbintenis tot deursigtigheid, verantwoordbaarheid en verantwoordelike leierskap." Dít was die kernboodskap van Tsakani Maluleke, Suid-Afrika se ouditeur-generaal (OGSA), by die jaarlikse Frederik Van Zyl Slabbert-gedenklesing wat 14 Augustus by STIAS gelewer is.

Die lesing, wat deur die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling by die Universiteit Stellenbosch (US) met die ondersteuning van die Konrad-Adenauer-Stiftung (stigting) aangebied is, se doel is om 'n platform vir studenteleiers, akademici en die wyer internasionale gemeenskap te skep om huidige politieke en staatsbestuurkwessies krities te bespreek.

Slabbert se nalatenskap is steeds uiters relevant in die aanloop tot Suid-Afrika se viering van dertig jaar van demokrasie, het die US Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, in sy verwelkomingstoespraak gesê. “Sy ideale van dialoog, inklusiwiteit, demokratiese waarde en gesonde staatsbestuur be?nvloed en vorm steeds die maniere waarop ons verskeie uitdagings aanspreek, asook ons toekomsdenke. En ons verbintenis daartoe om sy nalatenskap te huldig deur die instituut wat na hom vernoem is, weerspie?l ons toegewydheid aan akademiese uitnemendheid, demokratiese waardes en die bevordering van verantwoordelike burgerskap," het De Villiers opgemerk.

Maluleke het in haar toespraak die behoefte aan sterk leierskap en etiese staatsbestuur beklemtoon om die uitdagings aan te spreek wat Suid-Afrika in die gesig staar. Volgens haar het plaaslike regerings deur die jaar verder verswak en word die uitwerking in swak dienslewering, die voortgesette agteruitgang van infrastruktuur en die onvermo? om projekte van stapel te stuur gesien.

“Ongelukkig het ons land se geskiedenis vir ons gewys wat die verskriklike gevolge van swak staatsbestuur is. Dit is ons verantwoordelikheid om uit daardie lesse te leer om te verseker dat ons openbare instellings teen enige oortredings beskerm is," het Maluleke gesê.

Sy het die gebrek aan leierskap in openbare instellings betreur en gesê die sukses van die OGSA kan toegeskryf word aan die feit dat dit 'n professionele omgewing met stabiele, bevoegde en bekwame leierskap is. “Die Wêreldbank het 118 lande geassesseer en die OGSA was een van net twee nasionale ouditkantore in die wêreld wat ten volle onafhanklik is om hulle ouditmandate in hulle onderskeie lande uit te voer," het Maluleke gesê.

Sy het verder ook die OGSA se rol om toekomstige rekenmeesters op te lei, beklemtoon. Daar is tans 1 200 gegradueerdes in die instelling se opleidingsprogram, wat die grootste inisiatief in sy soort in die land is. Sy het die belangrikheid van 'n openbare instelling beklemtoon wat jaarliks honderde geoktrooieerde rekenmeesters (GR's) oplewer. “Ons is nou elke jaar tweede of derde wat betref die lewering van die meeste nuwe GR's en die meerderheid is swart en vroue."

Sy het die gehoor aan 'n aanhaling van Slabbert herinner waarin hy sê Suid-Afrika staar probleme in die gesig waarvoor die wêreld nog nie oplossings gevind het nie. Maar dit moenie ons wanhopig maak nie, het sy gewaarsku. “Ek glo dit kan ons bemoedig. Indien daar ooit 'n uitdaging en inspirasie vir ons was, laat dit dít wees. Met ons gedeelde en dringende uitdagings glo ek ons is as Suid-Afrikaners goedgebalanseer om die oplossings te vind waarna die wêreld soek.

Maluleka het breedvoerig gepraat oor hoe belangrik dit is om staatsamptenare aanspreeklik te hou en om te verseker dat openbare geld aangewend word vir dít waarvoor dit bedoel was.

“Hopeloos te veel hulpbronne en geld word nie aangewend vir dít waarvoor dit bedoel was nie, wat burgers aan geweldige swaarkry blootstel. Paaie en ander infrastruktuur word nie behoorlik onderhou nie en burgers word deur onvoorspelbare toegang tot skoon water en toenemende besoedelde omgewings benadeel."

Die onlangse waterramp in Hammanskraal waar 29 mense aan cholera gesterf het weens besoedelde watertoevoer, is 'n tragiese voorbeeld van swak staatsbestuur, het Maluleke gesê.

“Ons het as die ouditkantoor verslag gedoen oor kommer in verband met die gehalte en toestand van die afvalwaterbehandelingsaanleg by Rooiwal en ons het ouditbevindings uitgelig en aanbevelings gedoen oor hoe die aanleg herstel behoort te word. Ons het ook ons insigte uitgelig oor die uitwerking wat hierdie wanfunksionele aanleg op die gehalte van die water het wat aan die inwoners verskaf word.

“Ons bevindings en aanbevelings was soortgelyk aan dié van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Daar was baie min vordering ten opsigte van die inwerkingstelling van die aanbevelings deur mense wat aan die hoof van die instelling staan en ongelukkig het mense gesterf. Vir ons was dit 'n oomblik om te besin oor hoe ons meer invloedryk kan wees om vinniger reaksie te bewerkstellig vir goed wat ons ge?dentifiseer het," het sy gesê.

Volgens Maluleke het munisipaliteite verlede jaar R1,6 miljard aan konsultante bestee om hulle te help om finansi?le state op te stel, eerder as om in interne vaardighede vir batebestuur te belê. “Jy moet jouself vra: Wie is hierdie konsultante? Wie het hulle opgelei? In watter gemeenskappe woon en floreer hulle? Watter deel van die samelewing vier hulle sukses as dit is wat hulle doen? As ons nie ons burgerlike plig gaan nakom om anders met die openbare sektor om te gaan nie, gaan ons aanhou om 'n verswakking in bekwaamheid in openbare instellings te sien en dan is ons almal aan die verloorkant."

Maluleke het gesê daar is 'n behoefte aan professionele plaaslike regering om funksionele munisipaliteite en beter dienslewering te verseker. As OG het sy die klem na prestasie verskuif. “Die gesprek moet verder as debiete en krediete en onre?lmatige uitgawes strek om ook te praat oor wat met beskikbare geld gebeur. Dit is nie aanvaarbaar om die re?ls van die OG na te kom, maar niks tussen-in te doen nie.

“Ek wil 'n uitnodiging aan alle burgers rig om meer oor die onderwerp van prestasie-inligting te begin praat. Wanneer 'n munisipaliteit nie getrou verslag doen oor hoe hulle openbare geld aangewend het nie, weet jy hulle nie 'n mandaat uitgevoer nie. Ek glo die verskil tussen 'n instelling wat hulle mandaat uitvoer, lê in daardie prestasie-inligting."

Maluleke het ook die aangevulde mag van die OG bespreek om korrupsie in Suid-Afrika te beveg. Hierdie mag gee aan die OG die reg om te verseker dat openbare entiteite die OG se aanbevelings verder voer. Hoewel hierdie mag die OG help om verantwoordbaarheid meer doeltreffend af te dwing, kan haar kantor nie die rol van ander owerhede oorneem nie, het Maluleke gesê. “Die bykomende mag help ons om 'n bydrae te lewer. Dit is belangrik dat ons rol dié van 'n onafhanklike ouditeur bly. Ons is nie gespesialiseerde speurders of wetstoepassingsagente nie en ons moet ook nie wees nie. Ek dink nie julle wil ouditeure hê wat met handwapens rondloop nie! Maar ons kan ongerymdhede vir ondersoek verwys." Sy het twee onlangse voorbeelde uitgelig waar OGSA-verwysings na wetstoepassingsagentskappe tot regstappe teen die skuldiges gelei het.

Maluleka het haar toespraak op 'n hoopvolle noot afgesluit deur die gehoor daaraan te herinner dat daar baie staatsamptenare in die openbare sektor is wat die regte ding wil doen. “So, wanneer ons kla, moet ons onthou daar is baie van ons landsgenote wat uiters hard werk om die stelsel vir ons te laat werk. Ons moet ook onthou die beskerming van instellings is die enigste manier waarop ons met verbeterings gaan kan volhou om uiteindelik 'n beter lewe aan almal te bied."

FOTO: Henk Oets