
Voormalige Visekanselier en Rektor
Professor Willem (or Wim) de Villiers het van
2015-2025 as Visekanselier & Rektor van die
Universiteit Stellenbosch gedien.


Wim is die jongste kind van 'n voormalige Dekaan van Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was 'n uiters suksesvolle student, wat aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het met die beste punte in die Kaapprovinsie. Verder het hy in 1983 aan die Universiteit Stellenbosch die MBChB met lof verwerf, waarvoor hy die Kanseliersmedalje ontvang het, en ook aan die Universiteit Stellenbosch in 1990 die M-graad in interne geneeskunde met lof verwerf.
In 1984 registreer Wim as 'n geneesheer by die Suid-Afrikaanse Mediese en Tandheelkundige Raad en begin sy loopbaan as 'n internis en mediese beampte aan Frerehospitaal in die Oos-Kaap. Dit is hier waar hy besluit het om in gastro?nterologie te spesialiseer. Nadat hy vir 'n ruk in Pretoria gewerk het, keer hy in 1986 terug na die Universiteit Stellenbosch om die Registrateurspos in die Departement Interne Geneeskunde op te neem.
In die 1990's reis Wim na die VK en voltooi 'n DPhil in Immunologie aan Oxford Universiteit. Hy verhuis ook in 1995 na Amerika nadat hy deur die Universiteit van Kentucky se Mediese Sentrum gewerf is. Hy het aanvanklik beoog om vir 18 maande daar te wees, maar uiteindelik vir 18 jaar gebly en homself tot bestuursvlak opgewerk.
Hy was die Hoof van Gastro?nterologie aan die Universiteit van Kentucky en die Administratiewe Hoof van die Good Samaritan-Hospitaal in Lexington. Benewens sy werk as 'n gastro?nteroloog het hy ook 'n gerespekteerde mediese navorser geraak en bygedra tot die Best Doctors in America-publikasie. Sy passie is die immunologie van die dermkanaal, en spesifiek die rol van die aangebore immuunstelsel en makrofae. Sy kliniese kundigheid is op inflammatoriese dermkanaalsiekte (Crohn se siekte en ulseratiewe kolitis) toegespits.
In 2013 trek hy terug na Suid-Afrika, en word Dekaan van Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad voor hy by Stellenbosch in Desember 2014 aangestel is.

Mooi kuier by Prof Wim de Villiers
In Oktober 2019 het die TV-program Mooi met Anet Pienaar-Vosloo as aanbieder, by prof Wim de Villiers en sy vrou, Catherine, gaan kuier om oor die geskiedenis van hul huis op Stellenbosch te gesels.
Die insetsel is destyds op Via (DStv kanaal 147) uitgesaai, en word nou met vergunning van Media24 hier gedeel. Dit bied ’n vinnige blik op sy lewe buite die kantoor.