Prof Wim groet ná tien jaar as Rektor en Visekanselier
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 31/03/2025
Prof Wim by sy laaste gradeplegtigheid op 27 Maart 2025. Foto: Stefan Els
Daar was 'n ligtheid, selfs 'n vrolikheid aan Prof Wim de Villiers in die laaste paar dae op die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus voor sy aftrede. Dis asof hy ná tien “rustelose" jare in die tuig as Rektor en Visekanselier homself die vryheid veroorloof het om 'n bietjie asem te skep en vir oulaas plesier te put uit sy werk.
Tydens 'n kampus-wandeling is hy onbeskaamd nostalgies oor die plek waar hy vir die eerste keer as mediese student 'n pad as Matie begin stap het. Dié reis het hom uiteindelik tot groot hoogtes geneem.
Dis 'n bittersoet tyd om afskeid te neem, sê hy. “Dis nou Maart, binnekort gaan die blare begin verkleur en afval. As jy hier opkyk in Victoriastraat met sy bome, sal jy sien hoe die herfs nader kruip," beduie hy. “Daar is nie 'n mooier kampus waarvan ek weet nie," voeg hy innig by.
De Villiers erken dit gaan 'n vreemde gevoel wees om nie meer daagliks die roete van sy huis na sy kantoor in die statige Administrasie B-gebou te stap nie. “Dis vir my steeds moeilik om die woord 'aftrede' oor my lippe te bring."
Ná 1 April sal hy beslis nog kom “movies" kyk in die Neelsie, sy gunstelingplek op kampus. “Dis so 'n plesier om in te stap en die energie te ervaar van die jongklomp, veral as iemand op die klavier sit en tokkel. Dis die gees van die Universiteit wat so lekker is," merk hy op terwyl hy wuif vir 'n groep studente wat die rektor opgewonde herken. Hy onthou hoe jolig die Neelsie was met die twee Wêreldbekerrugby-feesvieringe in 2019 en 2023.
“Hoe kan 'n mens nie geraak wees deur so 'n wonderlike kampus nie? Kyk net al die jongmense wat hulle pad vind in die lewe en fantastiese dinge gaan doen..."?
Wêreldklas-inklusiewe universiteit
Onder De Villiers se leierskap het die US se kampus gegroei tot 'n baie ander plek as wat dit was toe hy op 1 April 2015 Rektor en Visekanselier geword het.
Voor die Ou Hoofgebou by die regsfakulteit vertoef hy by die installasie van die aanhef tot die Suid-Afrikaanse Grondwet wat in 2020 onthul is. By die Krotoa-gebou gesels hy oor die naamsverandering van die RW Wilcocks-gebou van ouds en hoe belangrik dit was om hulde te bring aan Eva Krotoa, een van die grootmoeders van Suid-Afrika.
De Villiers was nou betrokke by die US se Visuele Regstellingsbeleid wat in 2021 aanvaar is, die eerste van sy soort aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit. Onderweg na die biblioteek wys hy na die muur met kaarte van al die gemeenskappe in en om Stellenbosch. Dit simboliseer die br?e wat die universiteit oor die afgelope meer as 100 jaar in die dorp help bou het.
Teen dieselfde muur is De Villiers se woorde tydens die US se Eeufeesviering verewig: “In sy 2018 Eeufeesjaar vier die US sy suksesse en prestasies. Ons erken ook, met diepe spyt, ons rol in die ongeregtighede van ons land se verlede. Die US verbind hom tot die ideaal van 'n inklusiewe, wêreldklas-universiteit in en vir Afrika. Saam vorentoe."
Die US is die enigste universiteit in Suid-Afrika met 'n Restitusiestelling.
Dis vir De Villiers 'n riem onder die hart dat die US nie meer gebuk gaan onder die stigma van ouds nie. “Ons is nie meer net 'n histories eksklusiewe instelling nie. Ons is 'n wêreldklas- inklusiewe universiteit wat voortdurend na uitmuntendheid streef. Daar word nie meer weggeskram van moeilike gesprekke nie."
Universiteite is instellings vir die eeue, sê De Villiers graag. “Dit was 'n voorreg om deel te kon gewees het van 'n plek wat so 'n reuse-impak gemaak het. Ek noem my termyn die 'rustelose dekade'. Daar was baie uitdagings, maar ook besonder baie waarvoor ons moet dankbaar wees. Ek dink die Universiteit is onteenseglik op 'n beter plek as wat dit was toe ek in 2015 hierheen gekom het. Maar dis nie danksy my nie – alhoewel daar natuurlik ook mense is wat sal sê dis ondanks my! Wat ook al bereik is, glo ek werklik dis omdat daar so 'n besondere span mense is wat saam met my die pad gestap het."
Sy belangrikste fokus was deurgaans die akademiese projek, verduidelik De Villiers. “Soos ek altyd sê: 'The main thing about the main thing is the main thing.' Dit gaan allereers oor akademiese uitnemendheid. Daar is baie ander geraas wat jy moet trotseer, maar ek het vroeg in my bestuursloopbaan besef dis nie 'n gewildheidskompetisie nie. As ek nie van links en regs aangeval word nie, dan doen ek iets verkeerd."
Toe De Villiers 'n dekade gelede ingehuldig is as Rektor en Visekanselier, het hy verklaar dat die US nie 'n “volksuniversiteit" is nie. Hy voel steeds sterk daaroor. “Die universiteit is nie daar om die belange van 'n klein groepie in die Wes-Kaap te dien nie. Dis nie 'n Afrikaanse, Engelse of isiXhosa-universiteit nie, dis 'n juweel in die kroon van nasionale onderwys in Suid-Afrika. Ons is volledig in diens van die gemeenskap."
Kritiek nie persoonlik nie
De Villiers is gelate oor die verbete aanvalle wat hy moes verduur, veral nadat transformasie by die US behoorlik op dreef gekom het onder sy aanvoering. In sy kantoor is elke spotprent wat die afgelope jare in die media van hom verskyn het uitgestal teen die mure. Hy moes soms maar 'n dik vel hê, erken hy. “Ek het aanvaar die kritiek is meestal nie persoonlik nie. Dis nie vir my wat hulle aanval nie, dis idees, ideologie?. Van die spotprente was baie snaaks. Maar hier teen die einde het dit by tye demonies begin raak," grinnik hy en wys na 'n onvleiende spotprent wat in
Die Burger verskyn het.
Sonder 'n sin vir humor sou die fel kritiek wat soms na hom geslinger is hom waarskynlik meer gegrief het. Sy ondeundheid skemer deur in sy gunsteling-koffiebeker met 'n uitbeelding van 'n bekende surrealistiese kunswerk, 'n prentjie van 'n pyp met die onderskrif in Frans “Hierdie is nie 'n pyp nie". “Dis inderdaad nie 'n pyp nie, dis 'n afbeelding van 'n pyp!" lag hy. “Dinge is nie altyd soos dit lyk nie."
Sy ervaring as medikus het hom soms goed te staan gekom wanneer hy as rektor moes bontstaan om die vrede te bewaar. “My professionele opleiding as 'n gastro?nteroloog en internis het my gehelp om objektiwiteit te behou. Op 'n sekere manier het dit soms gevoel of die universiteit 'n pasi?nt is. Medici is baie goed met kompartementalisering. Elke pasi?nt en situasie het 100% van jou aandag nodig. Dokters is ook knap met kompleksiteit hanteer en spanwerk. Dit gaan daaroor om probleme te diagnoseer, krities daarna te kyk, die data te analiseer, die probleme te behandel en dan die kuur te evalueer."
Die glastafel in sy kantoor – waar vergaderings in onstuimige tye soms tot saans laat geduur het – is tekenend van sy bestuurstyl. Deursigtigheid is belangrik, beklemtoon De Villiers. Hy het daarvan gehou om in voeling te wees met kollegas en sy oor op die grond te hou. “Dis so 'n bietjie soos die saalrondtes wat dokters doen om pasi?nte se temperature te neem," skerts hy. Van sy beste herinneringe van die afgelope jare was die rektors-ontbyte waar hy gereeld met personeel en studente ontmoet het om te gesels oor dinge wat hulle gelukkig maak én grief.
Spanpoging met Catherine
Wanneer De Villiers sy kantoordeur vandag agter hom toetrek en die sleutels aan sy opvolger, Prof Deresh Ramjugernath, oorhandig, is die eerste prioriteit 'n welverdiende blaaskans. Hy sien uit daarna om te ontspan saam met sy vrou, Catherine, en hul kinders, Katusha, Gera en Braam, en sy drie kleinkinders. Die gesin beplan al lank aan 'n vakansie in die Cederberge. “Ek gaan net 'n bietjie afskakel en rustig wees daar in die natuur. En dan sal ek moet herkalibreer en mooi dink oor die pad vorentoe. En 'n
nuisance maak van myself by die huis sodat my vrou my wegstuur!"
?Prof Wim en vrou sy vrou Catherine.
Dit het vir De Villiers geweldig baie beteken om Catherine aan sy sy te hê met al sy amptelike verpligtinge aan die Universiteit. Sonder haar sou hy nie die afgelope tien jaar se storms so goed kon deurstaan nie, sê hy. “Ek kon dit wraggies nie sonder haar gedoen het nie. Dit was deurentyd 'n spanpoging."
Hy sal graag nog by mediese navorsing wil betrokke bly. Tussendeur beplan hy om sy outobiografie klaar te skryf. Of dit wel die vermaaklike titel sal hê
Van Rektum na Rektor ('n sinspeling op sy mediese spesialisveld) soos hy grappenderwys beweer, bly vir eers 'n verrassing.
De Villiers sê hy is gerus dat hy die US oorgee aan 'n bekwame leier wat die Universiteit gewis na nóg groter hoogtes sal stuur. “Prof Deresh is 'n gesoute akademikus en 'n ervare bestuurder. My raad aan hom is eenvoudig: Doe zo voort. Hou jou oog op die bal en vertrou jouself."
Dis vir De Villiers baie spesiaal dat sy laaste week as Rektor en Visekanselier saamgeval het met die Universiteit se Maart-gradeplegtigheid. Dit was altyd die hoogtepunt van sy jaar wanneer hy elke student persoonlik kon gelukwens met hul prestasies. “Oor die afgelope tien jaar het ons meer as 90 000 kwalifikasies toegeken. Dis 'n besondere bydrae tot menslike kapitaal." ?
Voor De Villiers groet en in Victoriastraat opstap na sy huis, noem hy dat sy knie? deesdae lol. “Dis van al die marathons wat ek gedraf het. Ek het in 2019 my laaste marathon voltooi. Dit was baie rof, ek het swaargekry. Deesdae ry ek eerder fiets om fiks te bly. Dis een ding wat ek sal aanhou doen – om jaarliks aan die Kaapstad-fietstoer deel te neem om geld in te samel vir behoeftige studente. Dit lê my baie na aan die hart."
By prof Wim se onlangse afskeid by Vredenheim: Kelly (prof Wim se skoondogter), Catherine, Eloise (kleindogter), prof Wim en sy seun Braam. Voor is kleindogters Rosalie en Beatrice. Die De Villiers-dogters Katusha en Gera kon nie die geleentheid bywoon nie. Foto: Stefan Els?