Sedert Dr Jill Ryan by die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gelykwaardigheid begin werk het, is sy ’n uitgesproke stem teen geslagsgebaseerde geweld. Ryan sê sy is dankbaar om ’n verskil te kan maak. Wanneer sy met opleiding besig is of ’n werkswinkel aanbied, is dit die daardie oomblik wat die lig vir iemand aangaan en iets snap wat sy probeer tuisbring, wat haar werk betekenis gee.
Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Hieronder verduidelik Ryan wat haar werk alles behels.?
Verduidelik asseblief jou rol by die US.
My hooffunksie as die gender-niegeweldko?rdineerder behels om strategiese institusionele ondersteuning vir ons reaksie op geslagsgebaseerde geweld (GBG) te bied. Dit behels die verskaffing van gedeeldeverantwoordelikheidsbestuur, die monitering van die instelling se teen-GBG-aktiwiteite, -inisiatiewe en -aksieplanne wat met beleid verband hou deur ons anti-GBG-moniteringskomitee, asook die verskaffing van opleiding en intervensies oor GBG-bewustheid en die skep van versterkte vennootskappe/medewerkings om op GBG by die US te reageer.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
Elke dag hou iets nuuts in. My week kan egter die fasilitering van werksessies, vergaderings, opleiding, aanbiedings oor verskeie onderwerpe, insluitende GBG, onbewustelike vooroordeel, omstanderintervensies, ensovoorts vir personeel- en studentedeelname insluit. Verder kan dit ook die advisering in insidente, deelname aan navorsing en navorsingsinisiatiewe wat met versterkte institusionele reaksie op GBG verband hou, deelname aan interne en eksterne provinsiale en streekskomitees en forums oor GBG, deelname aan en die sameroeping van werksgroepe vir ons Gemeenskap van Praktisyns teen GBG (wat uit personeel en studente van Suid-Afrikaanse universiteite bestaan wat bewuste ondersteuning, navorsing, opvoeding, kampvegterwerk, oplossings en intervensies bied ter wille van 'n bepaalde benadering in die voorkoming en uitroeiing van geslagsgebaseerde geweld op universiteitskampusse regoor Suid-Afrika) insluit. Ek skakel ook met studenteleierskap en help hulle met maniere om GBG te bekamp en ek ontvang uitnodigings om aan verskillende paneelbesprekings by die US en deur ander verwante netwerke deel te neem.
Hoe het jou opleiding of ondervinding jou vir hierdie rol voorberei?
Ek het 'n B-graad in Sielkunde en 'n meesters- en doktorsgraad in Kinder- en Gesinstudies wat ek aan die Universiteit van Wes-Kaapland voltooi het. My studies het op gesinsgeweld gefokus, met die klem op die oordrag van huishoudelike geweld tussen generasies en die gebruik van intervensienavorsing vir strategie? wat die geweldsiklus ontwrig en welstand fasiliteer. Ek het as 'n navorsingsassistent, kliniese ondersteuningsfasiliteerder en dosent gewerk en tree tans as studieleier vir nagraadse studente op. My vorige pos as 'n senior wetenskaplike by Cochrane Suid-Afrika, gesetel in die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, het my liefde en belangstelling vir intervensienavorsing aangewakker. Hierdie wonderlike geleenthede het my laat besef hoe belangrik dit is om nie net bewysgebaseerde intervensies te skep nie, maar dat intervensies ook kontekstueel toepaslik en behoefte-sensitief moet wees en dat deelname deur belanghebbendes en die inkoop in transformerende verandering aller belangrik is.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en jou werk by die US?
Daar's te veel om op te noem, maar ek sal probeer! Die ongelooflike mense saam met wie ek werk, asook diegene met wie ek skakel. Dan is daar die spreekwoordelike oomblik wat die lig vir iemand aangaan terwyl jy 'n werkswinkel of opleiding aanbied en jy kan sien hoe die gehoor iets snap. Dit is die wonderlike gesprekke – soms baie eg en rou – wat ons met personeel en studente gedurende ons skakeling voer en dit is so mooi om deel te wees van hierdie broodnodige ruimtes. Geslagsgebaseerde geweld en die besinning oor geweldstoestande bring ons seer na vore en toon hoe ons seer in lae neerslag gevind het, maar ook verstrengel is in die stelsels waarmee ons interaksie het. Daarom is genesing 'n proses en ons optrede teenoor sosiale geregtigheid moet betekenisvol en doelgerig wees. Ek is dankbaar om deel te kan wees hiervan.
Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat mense nie sal verwag nie.
Ek is versot op kos! En nie net om dit te eet nie, maar om meer daarvan te leer. Kos is 'n uitbreiding van die self, identiteit, kultuur en herkoms, maar kan jou ook na nuwe maniere lei om vertroosting (gunstelinggereg selfs wanneer jy ver van die huis af is) en verskille (deur kos kan jy 'n land proe waar jy nog nooit was nie) te ervaar. Hetsy dit 'n klas oor voedselgisting, 'n barista-les, sessies oor plaaslike en internasionale kookkuns of enigiets is wat werklik die verskeidenheid en diversiteit van kos vasvang, ek geniet dit om deel te wees daarvan.