肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie vind meer uit oor knopmyte in wingerde
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 13/01/2023

???Wanneer Suid-Afrikaanse wingerdkundiges hul pesbestuursprogramme beplan, neem hulle tipies aan dat verskillende soorte mikroskopiese myte elkeen onafhanklik van mekaar verskillende soorte simptome veroorsaak in die knoppe of op die blare van druifplante. Dis 'n verkeerde aanname, sê 'n studie in die joernaal Diversity, waartoe kenners van onder meer die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DLGLO), die Departement Genetika aan die Universiteit Stellenbosch en die Landbounavorsingsraad (LNR) bygedra het. Ja, mens kry wel verskillende spesies regoor wingerd, maar anders as wat voorheen vermoed is, kom elkeen nie net op 'n baie spesifieke deel van die plant voor nie.

Die myt Colomerus vitis is 'n pes wat in wingerde wêreldwyd gevind word. Teen tussen 0,1 mm en 0.2 mm in grote is volwasse knopmyte eenvoudig te klein om met die blote oog raak te sien. Hul eiers en larwes is selfs kleiner.

Die hoofskrywer van die Diversity-artikel is dr. Davina Saccaggi. Sy het gedurende die loop van die jarelange navorsingsprojek vir die DLGLO se Plantgesondheid Diagnostiese Dienste gewerk, en is nou aan Citrus Research International verbonde.

Sy sê hul bevindinge hou praktiese implikasies in vir hoe produsente reageer op wingerdmyt-infestasies. Gewoonlik tree hulle op wanneer hulle simptome sien weens skade wat die myte in die rustende ogies aangerig het. Dit kan lei tot misvormde lote, blare en trosse en selfs tot vernietigde ogies. Dié kan 'n ekonomiese impak op die volgende oes hê.

“Die skade word aangerig as myte in rustende ogies voed. Mens sien dan die simptome as die ogies begin bot," vertel een van die medeskrywers, dr. Ellenorah Allsopp van die LNR  Infruitec-Nietvoorbij, verder.

“Produsente het altyd aanvaar dat daar een soort myt is wat knopsimptome soos knoppieblaargalle veroorsaak, en ander wat weer simptome soos krulblaar veroorsaak. Daarom het hulle tipies dit apart hanteer, asof dit deur verskillende lyne veroorsaak word," sê dr. Saccaggi. “Ons genetiese studies wys egter dat hoewel mens verskillende spesies myte kry, elkeen geensins beperk is tot spesifieke dele van die wingerd nie. Jy kan elke spesie regoor die plant kry, almal gelyktydig. As jy dus net spuit weens knopmytsimptome, maar tekens van myte op die blare ignoreer, sal dieselfde myte maar net weer in die volgende seisoen in die ogies verskyn."

“Die verskillende simptome is almal rooi vlae vir dieselfde probleem. Produsente moet hulle hanteer asof hulle almal deel is van dieselfde ding, totdat ons nog meer oor hulle uitgevind het," reken dr. Barbara van Asch van die US Departement Genetika.

Sy sê hul genetiese studies het gewys dat daar beslis minstens vyf spesies van die wingerd-myt wêreldwyd is, en dat drie van hulle in Suid-Afrikaanse wingerde voorkom. Al drie soorte myte is versamel regoor die wingerdplant.

“Mens kan dus nie 'n spesifieke wingerdsimptoom toeskryf aan net een enkele spesie nie."

Dr. Van Asch sê dis baie moontlik dat verdere studies sal wys dat daar selfs meer spesies te vinde is elders ter wêreld.

“Toekomstige studies moet ook daardie spesies insluit wat mens op wilde wingerd kry," reken sy.

Die huidige projek is in tandem befonds deur DLGLO en Winetech.

Dr Saccaggi en dr Van Asch sê albei dat hulle nie hul bevindinge sou kon gemaak het as dit nie was vir die wedersydse ondersteuning wat kollegas vir mekaar in die projek gegee het nie, en danksy hul uitruil van genetiese en morfologiese vaardighede.

Details van die projek

Die projek het reeds 'n dekade gelede 'n aanvang geneem toe onbekende myte opgemerk is op ingevoerde wingerdlote. Op daardie stadium het dr. Saccaggi vir DLGLO se Plantgesondheid Diagnostiese eenheid gewerk, en kon die eerste basiese genetiese volgordebepaling doen. Omdat sy slegs 'n ligmikroskoop tot haar beskikking gehad het, kon sy nie die fisiese kenmerke van die uiters klein insekte in detail bestudeer nie. Sy is in die proses ondersteun deur 'n kenner van hierdie soort myte, dr. Charnie Craemer van die Landbounavorsingsraad (LNR) Biosistematiek-afdeling.

“Hoe meer ons na die myte gekyk het, hoe meer ingewikkeld het dinge geraak," onthou sy die eerste frustrerende paar jaar van die projek.

Dinge het egter momentum begin kry toe sy kenners by die Departement Genetika by die Universiteit Stellenbosch genader het.

Daarna is die hulp van dr James Wesley Smit van die Elektron Mikroskopie Eenheid van die Sefako Makgatho Gesondheidswetenskappe Universiteit ook ingeroep. Hy het van die beste beskikbare elektronmikroskoop-beelde nog van mikroskopies klein knopmyte geneem.

Die eindresultaat is gedetailleerde monochroom beelde van wat op die oog af lyk soos 'n miervreter met twee pare bene wat langs 'n snoet verby steek. Vooraan elke been is borselagtige empodia.

* Me Palesa Maboeei en me Chanté Powell van die US Departement Genetika, en me. Nompumelelo P. Ngubane-Ndhlovu van DLGLO se Plantgesondheid Diagnostiese Dienste.