Kyk prof Ben van Heerden terug op sy lang loopbaan aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), staan een aspek duidelik uit: Sy passie om deurentyd nuwe dinge te vestig en dan aan te stap na die volgende uitdaging.
Strydig met sy aanvanklike plan om hom op die platteland as algemene praktisyn te vestig, het kerngeneeskunde, kurrikulumhernuwing en gesondheidsberoepe-onderwys uiteindelik sy loopbaan oorheers.
Van Heerden, voormalige direkteur van die MB,ChB-eenheid, het aan die Ho?rskool DF Malan in Bellville gematrikuleer en medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
Kerngeneeskunde
Sy loopbaan in kerngeneeskunde, vertel hy, het eintlik heel toevallig vlamgevat.
Hy het sy vrou, Marieta – 'n verpleegkundestudent – as mediese student ontmoet en hulle was reeds getroud toe hy in 1978 sy graad voltooi het. Omdat daar nog twee jaar se studie vir Marieta voorgelê het en hy uiteraard naby haar wou wees, het hy ingestem tot die versoek van die destydse hoof van kerngeneeskunde, prof Hannes Klopper, om die nuwe meestersgraad in kerngeneeskunde te doen. Dit was vir hom bekende terrein omdat hy reeds as skoolkind in daardie einste departement gewerk het toe sy pa, Flip, nog hoof daarvan was. Maar tot in daardie stadium het hy dit nie as loopbaanopsie oorweeg nie.
Teen sy verwagting in het die gogga só gebyt dat hy ná sy meestersgraadstudie saam met 'n kollega 'n kerngeneeskundedepartement in Windhoek, Namibi?, op die been gebring het.
Van 1989 tot 1991 – nadat hy intussen ook 'n MMed in interne geneeskunde aan die US behaal het – het hy hom danksy 'n Mediese Navorsingsraad-beurs as nadoktorale genoot in kerngeneeskunde aan die Johns Hopkins-universiteit in Amerika, bevind. Die gedagte was dat hy met sy terugkeer positronemissie-tomogra?e (PET) in Suid-Afrika sou vestig, maar tot sy teleurstelling was daar 'n gebrek aan fondse hiervoor van regeringskant af.
Tog beskou hy sy tyd in Amerika geensins as vermors nie. “Ek het ook gewone kerngeneeskunde gedoen en dit was fenomenaal net om onder dr Henry Wagner, 'n vader van kerngeneeskunde, te werk."
Breinbeeldingseenheid
Later was hy besoekende konsultant aan die Universiteit van Leuven in Belgi?. “Daar het ek baie meer geleer oor funksionele breinbeelding, 'n tegniek waarmee die breinfunksieverandering by onder andere mense met skisofrenie en depressie duidelik gesien kan word." Hy het ook gehelp met die vestiging van 'n epilepsiebeeldingseenheid, wat chirurge help besluit waar om te opereer.
Dié kundigheid kon hy terugbring Suid-Afrika toe, terwyl hy ook 'n funksionele breinbeeldingseenheid by Tygerberg van die grond af gekry het.
Skool vir Geneeskunde
In 2001 het sy loopbaankoers ingrypend verander toe die Fakulteit in vyf skole herstruktureer is. Sy besluit om aansoek te doen vir die pos van eerste Hoof van die Skool vir Geneeskunde, is vergemaklik deur die feit dat die breinbeeldingseenheid toe reeds goed gevestig was.
In sy nuwe hoedanigheid was Van Heerden onder meer verantwoordelik vir die MB,ChB-program, met 'n hele nuwe kurrikulum wat ge?mplementeer moes word. In 2008 moes hy weer 'n hersiene kurrikulumweergawe bestuur. “Dit alles het my gehelp om 'n redelike kundigheid op te bou ten opsigte van die ontwikkeling van kurrikulums en opleidingsmateriaal," vertel hy.
Teen die einde van sy vyfjaartermyn is sy loopbaan onverwags in 'n ander rigting gedwing. Met die aanstelling van 'n nuwe rektor by die US, is die FGGW-bestuurstruktuur volgens die hooffunksies van die universiteit herstruktureer en die vyf skole ontbind.
Gesondheidsberoepe-onderwys en die MB,ChB-program
Wat vroe?r net 'n gedagte by hom was, naamlik 'n sentrum vir gesondheidsberoepe-onderwys, het nou 'n werklikheid geword, met Van Heerden as eerste Direkteur. “Die manier waarop mense in gesondheidsberoepe leer, het in daardie stadium wêreldwyd amper 'n dissipline geword," verduidelik hy die doel daaragter.
Al was die begin klein, was daar 'n duidelike visie. “Ons wou 'n werklik akademiese sentrum ontwikkel waar navorsing gedoen word en het vroeg 'n graadkursus ingestel. Dit het later tot 'n PhD uitgebrei."
Terselfdertyd het hy steeds die MB,ChB-program bestuur. Teen 2015 is hierdie komponent losgemaak, omdat gevrees is dit word as die eintlike fokus gesien terwyl die sentrum vir ál die gesondheidsberoepe is.
“Ek het besluit dis tyd vir nuwe bloed en teruggestaan vir my adjunk, die opvoedkundige prof Susan van Schalkwyk," verduidelik Van Heerden sy besluit om daarna uitsluitlik op die MB,ChB-program te fokus.
'n Loopbaan-hoogtepunt was ongetwyfeld die ontdekking van sy liefde vir onderrig, sê die man wat wêreldwyd meer as 100 voorleggings gedoen en 44 eweknie-beoordeelde artikels gepubliseer het.
Trotse nalatenskap
Van Heerden en sy vrou woon in Boston, Bellville, en hulle het twee dogters, Alet en Daphne.
Hy onthou die lang ure wat hy oor die jare genoodsaak was om te werk, soveel so dat Alet eenkeer by haar ma wou weet wanneer Pappa weer kom kuier. “Dit was rowwe tye, maar ek glo tog ons het dit reggekry om 'n redelike goeie balans te handhaaf. Albei ons dogters het medies aan Stellenbosch studeer, so êrens is 'n goeie saadjie geplant."
Van Heerden praat met groot deernis van die sistiese ?brose waaraan Alet se man, Shaun, ly, sy geslaagde longoorplanting en die hoogtepunt toe twee dogtertjies ná 'n suksesvolle in vitro-poging gebore is.
Ná jare se opbou en vestig, is Van Heerden se aftrede om die draai.
Hoe voel hy daaroor?
Hy laat sak sy kop. “Dis 'n moeilike vraag." Dan: “Weet jy, ek het gegee wat ek kon.
Ek sien uit na my aftrede, maar is ook bietjie benoud oor waarmee ek myself besig gaan hou."
Gelukkig hou hy baie van lees, veral nie-?ksie, en is hy ook 'n aktiewe fotograaf. Dit skakel in by hul liefde vir reis. Gunsteling-vakansiebestemmings is Engeland en Skotland, terwyl hulle ook beplan om groot dele van Suid-Afrika te verken.
Nog 'n passie wat hy met sy vrou deel, is kosmaak. “Ek hou van redelik eksotiese en sterk gekruide kos, en eksperimenteer graag met Marokkaanse en Oosterse geregte," sê hy.
Oor die FGGW se toekoms is hy om verskeie redes baie positief.
“Oor die jare het ons ons goed binne die sosiopolitieke konteks van die land geposisioneer. Toe ek in 2001 as Hoof van die Skool vir Geneeskunde aangestel is, het ons doelbewus die keuringsprosesse aangepas sodat beter voorsiening gemaak word vir voorheen uitgesluite groepe. Ons studentekorps was toe 90% wit, en het sedertdien gevorder tot 70% swart, bruin en Indi?r."
Dit was 'n goed beplande proses, benadruk hy, en altyd op verdienste gegrond. “Dit kan dan ook aan die suksessyfer onder ons studente gesien word."
Die Fakulteit is ook baie ver ontwikkel wat gesondheidsberoepe-onderrig betref, meer as ander fakulteite in die land, sê hy ooglopend trots.
Hy glo vas die radikaal nuwe kurrikulum wat tans vir medies ontwikkel word, gaan 'n toonvenster wees van hoe moderne opvoedkundige tegnieke in mediese onderrig gebruik kan word. “Dis baie gerig op kern-siektetoestande waarmee praktisyns daagliks in ons land te doen kry."
En hy is opgewonde oor ontwikkeling op die gebied van die basiese wetenskappe. “Die nuwe fasiliteit wat daarvoor gebou gaan word, gaan ons in pas bring met die beste ter wêreld."
Foto-erkenning: Damien Schumann