肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente-atlete bewys sukses in sport en studies is moontlik
Outeur: Pia N?nny
Gepubliseer: 13/12/2016

In Augustus het Justine Palframan aan die 200m en 400m by die Olimpiese Spele in Rio deelgeneem. In Oktober is sy as Maties Sport se Sportvrou van die Jaar vir 2016 gekroon. En op Vrydag, 6 Desember, het sy 'n Matie-gegradueerde geword toe sy haar BSc-graad in Sportwetenskap ontvang het.

Al drie benoemdes vir die 2016 Maties Sportvrou van die Jaar-toekenning het in Desember by die Universiteit Stellenbosch (US) se gradeplegtighede graad gekry. Naas Justine, het SA swemmer Caitlin Kat, wat in Oktober goud in die 4x200m-vryslagaflos en 200m-vryslagitem by die Afrika-kampioenskap verower het, haar BSc-graad ontvang, terwyl Juline Rossouw, Protea-netbalspeler en lid van die USSA-span wat in Julie die Wêrelduniversiteite-netbalkampioenskap gewen het, haar onderwysgraad ontvang het.

Hulle was egter nie die enigste studente-atlete wat hul studies en sport suksesvol kon balanseer nie.

Om Maties op die krieketveld te verteenwoordig, het nie vir Ryelan Hardnick daarvan weerhou om uit te blink in sy studies nie. Om die waarheid te sê, hy glo sy deelname aan sport het inderwaarheid tot sy akademiese sukses bygedra. Ryelan, wat sy BRek-graad cum laude verwerf het, sal volgende jaar sy honneursgraad in rekeningkunde pak. Sy spanmaat Leon le Roux het sy BEd-graad ontvang en sal in 2017 by Laerskool Eversdal skoolhou.

Die Maties Fietsryklub het ook rede gehad om fees te vier. Afrika-bergfietsrykampioen Mariske Strauss het haar BSc-graad in Sportwetenskap ontvang, terwyl twee van die klub se staatmakers, Max Sullivan en Nicky Giliomee, albei hul BCom Honneursgrade in Publieke en Ontwikkelingsbestuur ontvang het. Max en Hans-Werner Heuer, wat sy ingenieursgraad verwerf het, het Suid-Afrika in Maart by die Wêrelduniversiteite-fietsrykampioenskap in die  Filippyne verteenwoordig, terwyl Nicky en Mariske lede van die Matiespan was wat die eerste Varsity Bergfietskompetisie gewen het.

Volgens Max is die resep vir sukses 'n kombinasie van toewyding en tydbestuur. "Sport bied ook 'n welkom onderbreking van studies," het hy bygevoeg.

Georgi Wilson, Maties Tennis se voorste vrouespeler, het nooit oorweeg om tennis op te gee nie. Sy het haar BCom-graad verwerf en sal voortgaan om Maties op die tennisbaan te verteenwoordig wanneer sy volgende jaar haar honneursgraad doen.

Vir kanovaarder Murray Starr sal sy ingenieursgraad in 2017 handig te pas kom wanneer hy as ingenieur op superjagte in Europa werk, maar eers wil hy sy sewende Dusi-kanomarathon voltooi. Hy hoop om op sy 6de plek van 2016 te verbeter.

Stormers- en Maties-rugbyspeler Kobus van Dyk moes sy graadvieringe eers uitstel ná hy Woensdag 7 Desember sy landbougraad ontvang het omdat hy die volgende oggend 'n Stormers-oefensessie moes bywoon, terwyl Pieter Schoonraad, kaptein van die Maties Sewesspan wat sowel die USSA- en Varsity Sports-kompetisies gewen het en as Maties Sport se Span van die Jaar vir 2016 gekroon is, in die wolke was oor sy BCom-graad.

"Ek is baie bly ek het na die Universiteit Stellenbosch gekom en hier rugby gespeel terwyl ek vir 'n graad geswot het," het hy gesê.

Die Maties-hokkieklub het ook verskeie graduandi opgelewer, onder andere Daniel Bell wat tans in Belgi? hokkie speel en spanmaats Heather McEwan en Paige Alcock wat hul honneursgrade in onderskeidelik Biokinetika en Sportwetenskap verwerf het.

Ilhaam Groenewald, Hoofdirekteur: Maties Sport, het al die studente-atlete wat grade ontvang het, gelukgewens.

"Jul toewyding om 'n sukses van jul sportdeelname sowel as jul studies te maak, is bewonderenswaardig," het sy gesê.