肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Plankton Manifes onthul belangrikheid van “onsigbare organismes”
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 25/09/2024

?Voortdurende ontwrigting van plankton-ekosisteme as gevolg van menslike aktiwiteite in ons oseane sal onvermydelik groot impakte hê op seelewe soos ons dit tans ken, wat waarskynlik tot onvoorsiene en potensieel dramatiese gevolge sal lei.

Maar terwyl die planktoniese ryk een van die rykste ekosisteme op aarde is in terme van biodiversiteit, bly ons begrip van die samestelling, verspreiding en dinamika van globale planktongemeenskappe baie beperk.

Dit is die waarskuwing onderliggend aan die Plankton Manifes wat hierdie week tydens die 79ste sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York bekendgestel is.

Volgens 'n mediavrystelling wat deur die Verenigde Nasies se Compact Ocean Stewardship Coalition uitgereik is, beklemtoon die Plankton Manifes die kritieke rol van plankton in die aanspreek van die onderling gekoppelde wêreldwye krisisse van klimaatsverandering, besoedeling en verlies aan biodiversiteit.

Plankton is mikroskopiese organismes wat vir meer as 3,5 miljard jaar die grondslag vir lewe op aarde is. Hulle genereer 'n aansienlike deel van suurstof, absorbeer groot hoeveelhede koolstof, suiwer water en herwin voedingstowwe wat noodsaaklik is vir die seelewe. As die basis van die mariene voedselweb ondersteun plankton indirek die lewensbestaan van meer as 12% van die wêreld se bevolking deur visserye en akwakultuur. Planktongroei in varswater be?nvloed die beskikbaarheid van drinkwater vir ontelbare miljoene.

Prof. Thulani Makhalanyane van die Universiteit Stellenbosch (US) en dr. Emma Rocke van die Universiteit van Kaapstad (UK) is twee van die 30 internasionaal erkende planktonkenners wat die manifes ge?nisieer het.

Makhalanyane, van die US se Departement Mikrobiologie en die Skool vir Datawetenskap, sê daar is 'n groter bewustheid dat daar een wêreldwye oseaan is. Met ander woorde, wat in ander dele van die wêreld gebeur, kan mariene voedselwebbe in 'n ander gebied be?nvloed. Studies oor mariene mikrobiome het egter vir te lank gefokus op plankton in ekosisteme wat belangrik is vir lande in die Globale Noorde: “Daar is nou 'n poging om op die Suid-Atlantiese Oseaan te fokus. Ons benodig meer studies oor plankton langs Afrika se kuslyn. Ons moet byvoorbeeld ondersoek hoe besoedelingstowwe van mynbou in die Kongo mariene voedselwebbe in die globale oseaan be?nvloed."

Dr Rocke, van UK se Mariene en Antarktiese Navorsingsentrum vir Innovasie en Volhoubaarheid (MARIS), ondersteun ook die oproep vir die bou van kundigheid in hierdie studiearea in Afrika: “Plankton verteenwoordig die basis van die voedselketting en is as sodanig van kritieke belang vir 'n gesonde oseaan ekosisteem. Sonder plankton sal ons geen visserye hê nie. Tog bly ons kennis van hul gemeenskapsdinamika ver agter ons begrip van meer charismatiese organismes."

Die Plankton Manifes het ook steun getrek van Suid-Afrikaanse mariene biolo? en wetenskaplikes wat biogeochemiese prosesse in die Suidelike Oseaan ondersoek.

Prof. Alakendra Roychoudhury, 'n omgewingsgeochemikus in die US se Departement Aardwetenskappe, sê sy navorsing fokus daarop om te probeer verstaan waarom fitoplankton nie in groot dele van die Suidelike Oseaan kan groei nie: “Plankton in die Suidelike Oseaan is verantwoordelik vir die versagting van die verwarmingseffekte van 'n groot fraksie van mensgemaakte koolstofdioksied wat in die atmosfeer vrygestel word. Tog weet ons min oor die diversiteit van fitoplankton in die Suidelike Oseaan en hoe dit by veranderende klimaatstoestande sal aanpas. Sodanige begrip is van kardinale belang om langtermynoplossings vir die voortgesette en toekomstige klimaatkrisis te vind."

Prof. Sophie von der Heyden, 'n molekulêre ekoloog in die US se Departement Plant- en Dierkunde, sê plankton is die kern van mariene biodiversiteit: “Ons gebruik metastrepieskodering van omgewings-DNS om kus-mariene biodiversiteit te dokumenteer, en ons bevindinge toon dat baie van hierdie spesies planktonies is. Die biodiversiteit is by verre meer as wat tans beskryf word."

Sanda Ojiambo, assistent-sekretaris-generaal en HUB van die UN Global Compact, sê die Plankton Manifes verteenwoordig 'n belangrike stap vorentoe in ons gesamentlike reaksie op die driedubbele planetêre krisis: "Plankton is nie net die grondslag van mariene ekosisteme nie, maar ook sleutelspelers in ons pogings om klimaatsverandering en besoedeling hok te slaan. Deur plankton te beskerm, beskerm ons 'n deurslaggewende deel van ons planeet se lewensondersteuningstelsel, wat die veerkragtigheid van ons oseane en varswater-ekosisteme vir toekomstige geslagte verseker."

Sleutelaanbevelings van die Plankton Manifes sluit in:

? Meer kennis om planktonbiodiversiteit op 'n globale skaal te monitor. Dit sluit 'n oproep in vir 'n globale gekonsolideerde planktonatlas en die ontwikkeling van planktongebaseerde gesondheidsindekse om mariene en varswater-ekostelsels te monitor.

? Bewusmaking deur middel van 'n globale “planktongeletterdheidsprojek".

? Integrasie van plankton in internasionale gesprekke oor klimaat en biodiversiteit.

Die Plankton Manifes is die resultaat van 'n gesamentlike poging, gelei deur die United Nations Global Compact, wat 30 internasionale kundiges van toonaangewende instellings en nywerhede wêreldwyd betrek het. Dit sal by verskeie wêreldwye omgewingskonferensies bekendgestel word, insluitend COP29 oor klimaat, COP16 oor biodiversiteit, en die Verenigde Nasies se Oseaankonferensie in Nice, Frankryk, in Junie 2025.