肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale impak: YEP bemagtig jong entrepreneurs vir die toekoms
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 19/07/2024

Met die Universiteit Stellenbosch (US) se fokus op bewustheid van sosiale impak in Julie, vier hierdie reeks profiele merkwaardige individue en spanne wat 'n betekenisvolle bydrae buite die Universiteit se mure lewer. Die onlangse eerste Sosiale Impak-toekennings het erkenning gegee aan akademiese en professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel by die US wat positiewe verandering in uiteenlopende omgewings dryf. Adolph Neethling, 'n dosent in die Departement Ondernemingsbestuur, het saam met sy kollega Sabrina Matthee 'n Sosiale Impak-toekenning vir hulle Jong Entrepreneurskapsprogram (YEP) ontvang.

Neethling is al meer as 'n dekade op 'n missie om die volgende geslag entrepreneurs te inspireer. Deur sy leierskap van die Jong Entrepreneurskapsprogram (YEP) by die US het ho?rskoolleerders uit agtergeblewe gemeenskappe in en om Stellenbosch vaardighede en selfvertroue gekry om hul idees in sakeondernemings te omskep.

YEP het as 'n samewerkingspoging tussen die US en die HU Universiteit van Toegepaste Wetenskappe Utrecht in Nederland begin, verduidelik Neethling. “'n Kollega van Nederland het my genader met die idee om 'n entrepreneurskapsprogram vir skoolkinders te begin. Ons het daarin geslaag om finansiering van die Nederlandse ambassade te bekom, wat ons in staat gestel het om die projek aan die gang te kry," sê hy. Die program het in 2018 met beskeie hulpbronne begin, maar die impak daarvan was ingrypend.

YEP se primêre doel is om ho?rskoolleerders te bemagtig deur hulle entrepreneursvaardighede aan te leer en hulle aan te moedig om idees te ontwikkel wat tot voordeel van hulle gemeenskappe kan wees. Dit erken die unieke uitdagings wat leerders in agtergeblewe gebiede in die gesig staar en bied 'n pad na ekonomiese onafhanklikheid.

By die week lange YEP-werksessie wat gedurende die Junie/Julie-skoolvakansie gehou word, ontwikkel leerders van Ho?rskool Kayamandi, Makapula, Lückhoff, Stellenzicht en Cloetesville idees en sakeplanne vir beginnersondernemings in spanne. Die program is gewoonlik op graad 10-leerders gerig, aangesien hulle skedules buigsamer is as dié van matrikulante.

Die sowat 60 leerders word gegroepeer en met mentors – studente van die US en Nederland – gepaar. Saam dink hulle aan sake-idees en verfyn dit. Op die laaste dag lê die leerders hulle konsepte aan 'n paneel beoordelaars voor. Die wen-idees ontvang aanvangskapitaal wat deur die Nederlandse ambassade geborg word om hulle planne ? werklikheid te maak.

Verwerkliking van idees

Die idees waarmee die leerders vorendag kom, is innoverend en gewortel in hulle gemeenskappe se behoeftes, verduidelik Neethling. Leerders van die Ho?rskool Makapula het byvoorbeeld verlede jaar 'n projek voorgestel om die tekort aan skoolbanke aan te spreek.

"Die leerders het opgemerk daar is nie genoeg skoolbanke in die skool nie, terwyl daar 'n skuur vol stukkende banke en lessenaars by die skool was," sê Neethling. “Eerder as om vir die departement van onderwys te wag om die kwessie aan te spreek, het hulle met die idee vorendag gekom om skrynwerkondersteuning te kry en self die lessenaars en banke onder leiding van die skool se opsigter wat oor skrynwerkvaardighede beskik, te herstel. Een van ons US-studente wat as tutor vir die groep optree, het daarin geslaag om 'n boor geborg te kry. Uit die groep se prysgeld kon hulle hout en ander gereedskap koop om die banke en lessenaars reg te maak."

Ho?rskool Lückhoff se leerders het verlede jaar met 'n voorstel vorendag gekom vir 'n projek waarby inwoners by 'n ouetehuis betrek word om serpe en wolmusse vir leerders te help brei. In skole waar kinders in die wintertyd sukkel om warm te bly, sal die serpe en musse teen 'n afslagprys verkoop word, terwyl die gemeenskapslede wat die artikels vervaardig het, ook 'n bykomende inkomste kan genereer.

'n Groep van Ho?rskool Stellenzicht het 'n projek voorgestel waar matrikulante bykomende akademiese ondersteuning kan kry deur buitemuurse onderrig met behulp van die skool se alumni. In vorige jare het wenprojekte 'n groentetuininisiatief ingesluit; 'n ontbytdiens by die skool vir ouers op pad werk toe in die oggende; 'n idee om polsbande met naamplaatjies van herwinde plastiek te maak om kinders op te spoor as hulle verdwaal; en ekovriendelike oplossings vir Suid-Afrika se beurtkragprobleme soos sonkragligte wat van herwonne glasbottels gemaak word.

Impak buite die klaskamer

Hierdie projekte bied nie net praktiese oplossings nie, maar kweek ook 'n gevoel van agentskap en selfvertroue onder die leerders, sê Neethling. "Dit was sover 'n baie opwindende reis. Dit is so lonend vir jongmense om te sien hoe hulle idees ? werklikheid word en dat iets goeds geskep kan word deur nuwe vaardighede aan te leer.

"Van die leerders is aanvanklik baie skaam en soms is daar 'n taalversperring. Maar namate hulle verstaan wat van hulle verwag word en watter impak hulle idees kan hê, word hulle meer selfversekerd. Teen die einde van die week is hulle borrelend en vol entoesiasme. Baie van die leerders kry vir die eerste keer die geleentheid om die Universiteitskampus te besoek en positiewe blootstelling om met studente in gesprek te tree."

Neethling beklemtoon ook die positiewe uitwerking op die studente. “Die studente se deelname aan die projek is vrywillig. Voor die werksessie begin, neem ons die plaaslike en buitelandse studente op 'n township-toer om met kleinsake-eienaars te praat en by mense te leer wat ongeag hulle omstandighede 'n bestaan maak. Hulle kry blootstelling aan werklike uitdagings, en hulle word bekendgestel aan gemeenskappe waaraan hulle dalk nie voorheen blootgestel is nie, so dit is 'n leersame ondervinding vir almal wat betrokke is."

Baie leerders kom uit agtergronde waar werkloosheid hoogty vier, en hulle sien nie die punt daarvan om te studeer nie, sê Neethling. “Onderwysers sê dikwels vir ons dat leerders nie dink dis nodig om akademies uit te blink nie, aangesien hulle weens die groot aantal werklose mense in hulle gemeenskap nie 'n toekoms vir hulleself sien nie. Hierdie projek laat hulle sien dat daar 'n alternatiewe manier is om geleenthede vir hulleself te skep."

Die impak is tasbaar. Onderwysers het al opgemerk dat hul leerders wat aan die program deelneem baie meer gemotiveerd is en 'n nuutgevonde doelgerigtheid openbaar.

Neethling se passie vir entrepreneurskapsopvoeding spruit uit sy uitgebreide ondervinding op die gebied van klein, medium en mikro-ondernemings as entrepreneur én akademikus. Hy het die eerste keer op die idee van “diensleer" afgekom toe hy 'n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat was voordat hy in 2006 by die US aangesluit het. “Diensleer is 'n opvoedkundige benadering waar studente deur vrywilligheidswerk leer en aan nadenke-aktiwiteite deelneem om hulle begrip te verdiep. Die beginsel is dat terwyl jy gemeenskapswerk doen, jy nie voorskryf nie. Eerder as om vir mense te sê wat om te doen, vra jy hoe jy hulle kan bystaan."

Neethling is al baie jare by verskeie projekte betrokke om entrepreneurskap deur diensleer te bevorder. Hy het in 2009 'n Rektorstoekenning ontvang vir sy uitsonderlike bydrae tot gemeenskapswerk by die US.

Om 'n program soos YEP te bestuur, is nie sonder uitdagings nie. Om finansiering vir kos en vervoer vir die leerders te bekom, is 'n voortdurende stryd. Neethling vertel hoe hulle daarin geslaag het om borgskappe van plaaslike sakeondernemings soos Food Lovers Market te bekom om etes vir die leerders te verskaf. Logistieke re?lings vir vervoer, veral vir leerders van afgele? gebiede, verg noukeurige beplanning en bykomende hulpbronne.

Ondersteuning en erkenning

Neethling het verlede jaar welkome ondersteuning gekry toe sy kollega Sabrina Matthee aan boord gekom het om hom met die bestuur van YEP te help. Matthee doseer entrepreneurskap en kleinsakebestuur aan die US en is ook passievol daaroor om 'n gevoel van trots by ontluikende entrepreneurs te kweek. Dit is opwindend om jongmense te wys dat in plaas daarvan om daarop te fokus om 'n werknemer te word, jy 'n werkgewer kan word wat werk skep en kritieke probleme in die gemeenskap aanspreek, sê Matthee.

Om met 'n Sosiale Impak-toekenning vir hulle harde werk erken te word, was 'n trotse oomblik vir albei dosente. “Dit is lekker om erkenning te kry, maar ons doen dit nie vir die toekennings nie. Ons doen dit omdat ons 'n verskil wil maak," beklemtoon Neethling. Hy waardeer die US se pogings om personeel vir sosiale-impakprojekte te beloon. “Terwyl sommige akademici net op akademiese navorsing fokus, voel diegene van ons wat baie tyd en energie aan gemeenskapswerk bestee het, ook ons word raakgesien."

Neethling sê die beste deel van die Sosiale Impak-toekenningsaand was om die wye omvang van gemeenskapsprojekte op die US-kampus gade te slaan. “Dit was fantasties om eendersdenkende kollegas te ontmoet en te sien hoeveel by die US gebeur. Ons hoop om in die toekoms saam te werk en maniere te vind om ons kundigheid en hulpbronne te deel."

FOTO: Prof Nico Koopman (Viserektor : Sosiale Impak, Transformasie en Personeel), Sabrina Matthee, Adolph Neethling en Dr Leslie van Rooi (Senior Direkteur: Sosiale Impak & Transformasie) by die Sosiale Impak-toekennings. (Foto geneem deur Stefan Els)