肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumna hardloop Comrades vir 'verlore middel' -studente
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 08/07/2024

Candice van Wijk het haar eerste Comrades-marathon met 'n bronsmedalje en 'n massiewe glimlag voltooi. 'n Glimlag wat nie net gestraal het van vreugde om dié veeleisende wedloop te kon voltooi nie, maar ook van bewondering vir die merkwaardige vrygewigheid en menslikheid van haar mede-Maties en Suid-Afrikaners.

Dié alumna van die Universiteit Stellenbosch (US) was een van 60 personeel, studente en alumni van die US wat die Comrades-marathon in Junie vanjaar aangepak het as deel van die #Move4Maties-inisiatief. Dié inisiatief samel geld in vir die “verlore middel"-studente wat nie kwalifiseer vir hulp van die regering se Nasionale Finansi?le Hulpskema vir Studente (NSFAS) nie.

“Om eerlik te wees, ek was nie eens bewus van hierdie 'verlore middel'-studente nie, en daarom is dit so belangrik om bewustheid te skep," het Candice gesê. “Tydens hierdie veldtog het ek gesien hoe 'minimale' bydraes van nuut ingeligte mense soos ek gegroei het om 'n impakvolle bedrag te word."

Candice, wat 10 jaar gelede saam met haar man (ook 'n Matie) na Luxemburg verhuis het, het bygevoeg: “Hierdie veldtog was baie insiggewend. Ek was baie bevoorreg om aan die Universiteit Stellenbosch te kon studeer, as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer en die geleenthede te geniet wat dit vir my ontsluit het. Maar danksy Alwin Mabuza (individuele fondswerwer by die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge) kon ek aan hierdie inisiatief deelneem en teruggee aan mede-Maties en ook vir die eerste keer in jare soos 'n regte Matie voel.

“Nog meer inspirerend was om te sien hoe 'n mede-Matie (Chris Zaayman, 'n voormalige NSFAS-begunstigde wat in Maart vanjaar met 'n MBA van die Stellenbosch Bestuurskool gegradueer het) wat voordeel getrek het uit 'n inisiatief soos hierdie, alles in die stryd werp om soveel moontlik bewustheid te skep en fondse in te samel."

Die Baccalaureus in Rekeningkunde-gegradueerde (2008) het vir die Comrades gekwalifiseer nadat sy die Sofico Gent-marathon in Belgi? saam met 'n mede-Matie “wie se enigste doel was om my te sien kwalifiseer", gehardloop het.

Sy het oor haar deelname aan die uitmergelende 2024 Comrades-marathon gesê: “Dit was 'n voorreg om aan die wedloop te kon deelneem. Ek het Suid-Afrika nog nooit so verenig en vol hoop gesien nie. Dit het gevoel asof ek aan die hartklop van Suid-Afrika geraak het.

“Die moeilikste deel vir my was om paaie te skei met 'n ongelooflike oom wat ek langs die pad ontmoet het. Ons het 50 km saam gehardloop. Hy het my aangemoedig en was baie vrygewig met sy kennis en ervaring. Ek was so gese?nd dat ek hom ontmoet het. Met 30 km oor het hy daarop aangedring dat ek vooruit hardloop. Ek het baie hartseer gevoel om hom agter te laat, maar was baie bly om agterna te hoor dat hy goed klaargemaak het en in die proses sy elfde medalje losgeslaan het. Dis vreemd ... Ek het hierdie wedloop begin om iemand anders te help, maar aan die einde van die dag is dit ek wat gese?nd weggestap het."

Candice werk tans as rekenmeester vir Andy Schleck, 'n voormalige professionele padfietsrenjaer en 2010 Tour de France-wenner.

“Ons probeer minstens een keer per jaar huis toe kom, maar soos ons gesin gegroei het, het die vliegkaartjiepryse ook gegroei. So, nou reis ons elke tweede jaar huis toe. Ek is lief vir Luxemburg en dankbaar vir die lewe wat ons hier gebou het, maar my hart sal altyd aan Suid-Afrika behoort."