肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se manifesontleding help partye om ooreenstemmings te vind in koalisiegesprekke
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 06/06/2024

?Met koalisiegesprekke in volle swang, het die Universiteit Stellenbosch (US) se Beleidsinnovasielaboratorium die manifeste van die vier grootste partye ontleed om uit te vind of daar gemeenskaplike terrein in hulle beleide oor sommige van die groter kwessies van nasionale belang is. Dit sluit in die implementering van nasionale gesondheidsversekering, grondhervormingsbeleide en die basiese inkomstetoelaag.

Hierdie kortpadontleding is nou vir partye en die publiek beskikbaar om beter te verstaan waar die ANC, DA, EFF en die uMkhonto we Sizwe (MK)-party saamstem en nie saamstem nie, verduidelik prof Willem Fourie, hoof van die Beleidsinnovasielaboratorium.

Hoewel daar eenstemmigheid oor verskeie kwessies is, veral oor die behoefte aan beleide om vroe? kinderontwikkeling en gesyferdheid en geletterdheid by skole te verbeter, asook oor die belangrikheid van beter opleiding vir SAPD-personeel om geslagsgebaseerde geweld te hanteer, verskil die partye oor baie ander sake.

Volgens Fourie was daar metodologiese uitdagings wat gedurende die ontleding in die gesig gestaar is. “Elke manifes het 'n unieke struktuur en interne logika gehad, wat direkte vergelykings uitdagend gemaak het. Ons moes 'n stelsel ontwikkel om onderwerpe tematies te groepeer sonder om op die individuele logika van enige manifes staat te maak," verduidelik hy.

Om hierdie uitdagings te oorkom, het die span die sewentien Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DvO'e) gebruik as 'n raamwerk vir die groepering van onderwerpe. Hierdie internasionale ontwikkelingsagenda, wat Suid-Afrika onderskryf, het 'n konsekwente grondslag vir vergelyking verskaf.

Nog 'n uiters belangrike aspek van die ontleding was die bepaling van die vlakke van konvergensie tussen die manifesonderwerpe. "Ons moes 'n balans vind tussen eenvoud en die versekering dat die kwalitatiewe ontleding betroubaar is," sê Fourie. Die span het 'n merkstelsel ontwerp wat onderwerpe in “sterk ooreenkoms", “matige ooreenkoms" en “lae ooreenkoms" kategoriseer. Inskrywings met onvoldoende inligting is dienooreenkomstig gemerk.

Dr Itai Makone, wat tot die ontleding bygedra het, beklemtoon die doel daarvan: “Die instrument is ook bedoel om politieke partye te help om die onderwerpe en temas waaroor hulle met ander partye saamstem, te verstaan, gebiede uit te lig wat nie genoeg inligting het nie, en om maniere te help ontwikkel om eenstemmigheid te bereik waar daar verskille bestaan."

  • Om meer oor die manifesvergelyking te wete te kom, klik hier.