肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Thuthuzela-sorgsentrum op Stellenbosch ‘baken van hoop’ vir GBG-slagoffers
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 18/04/2024

?Die Universiteit Stellenbosch (US) is een van verskeie vennote wat betrokke was by die bekendstelling van die eerste ondersteuningsentrum vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GBG) wat nie op hospitaalpersele gele? is nie en wat oor oornaggeriewe op die perseel beskik.

Sedert die Thuthuzela-sorgsentrum (TSS) in Februarie vanjaar sy deure in Idasvallei geopen het, het die sentrum al meer as 90 GBG-slagoffers gehelp. Dit beklemtoon die dringende behoefte aan 'n fasiliteit in die gebied om ondersteuning aan verkragtings- en GBG-slagoffers te bied, het die nasionale direkteur van openbare vervolging, advokaat Shamila Batohi, vandeesweek by die amptelike opening gesê. Die geleentheid is bygewoon deur hooggeplaastes van die nasionale en provinsiale regering, die diplomatieke koFrps en verteenwoordigers van verskeie nieregeringsorganisasies.

Die sentrum het reeds die las van die Stellenbosch-distrikshospitaal verlig deur 'n veilige alternatief aan slagoffers te bied wat ondersteuning en noodverblyf soek, het Sharna Fernandez, provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling, gesê. "Die TSS is 'n plek waar mense wat seergekry het, kan begin om hulle lewe te herbou, waar slagoffers oorlewendes kan word. Hierdie sentrum is net een aspek van die arsenaal wat ons nodig het om die plaag van GBG te beveg."

Batohi het die sentrum as 'n "simbool van die krag van samewerking" beskryf, met  die Nasionale Openbare Vervolgingsgesag, die nasionale en provinsiale regering, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Universiteit Stellenbosch (US), Stellenbosch Munisipaliteit, Mediclinic, Ring for Peace Cape Trust, die private sektor en "aktiewe burgers" wat almal betrokke was.

Die US is deur die INSPIRE-fasiliteit (Initiative for Non-violence, Support, Prevention, Intervention, Research and Education) betrokke wat sal help om wêreldwye netwerke te vestig om geweldloosheid te bestudeer en 'n omgewing vir akademici en studente te skep om GBG na te vors. "Ons wil ons verbondenheid tot die stryd teen GBG versterk en hierdie fasiliteit sal met navorsing, opleiding en onderrig help," het Jaco Greeff Brink, hoof van die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid, gesê.

Advokaat Bonnie Currie-Gamwo, spesiale direkteur van openbare vervolging: seksuele misdrywe, het die US geloof vir sy rol in die totstandkoming van die sentrum deur een van sy eertydse koshuise vir die doel beskikbaar te stel. Sy het gesê die Nasionale Vervolgingsgesag wil meer tersiêre instellings aanmoedig om by hulle plaaslike sorgsentrums in te skakel.

Een van die TSS se doelwitte is om aan slagoffers die emosionele, sielkundige en regsondersteuning te bied wat hulle nodig het om die oortreder te vervolg en skuldig te bevind – wat meestal iemand is wat hulle ken. Batohi het verduidelik dat meer as 50% van GBB-misdrywe word deur mense gepleeg wat aan die slagoffer bekend is. Hoewel die huidige skuldigbevindingsyfer vir sake van seksuele misdrywe glo op sowat 75% staan, is die realiteit dat dit slegs van toepassing is op die sake wat die hof bereik. Dikwels trek die slagoffer die saak terug. "Dit beteken die skuldigbevindingskoers daal, met minder as 10% wat werklik geregtigheid kry," het sy gesê. Fasiliteite soos die Stellenbosse TSS maak dit egter makliker vir slagoffers om regstappe deur te voer. "Die model werk omdat dit slagoffergesentreerd en hofgerig is om geregtigheid vir slagoffers te verseker."

Fernandez het gesê die sentrum sal nie net vir Stellenbosch en die Wes-Kaap nie, maar "vir die land as geheel" die toon aangee vir slagofferondersteuning. "Ek glo dit is 'n spesiale plek wat deur spesiale mense vir 'n spesiale doel geskep is," het sy bygevoeg.