肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nobelpryswenners herbesoek seminale werk in US Kanselierslesing
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 19/03/2024
Die Universiteit Stellenbosch (US) het verlede week gasheer gespeel vir talle uitgelese gaste en vooraanstaande wetenskaplikes van regoor die wêreld. Een van die hoogtepunte was die Kanselierslesing wat deur twee bekende Nobelpryswenners in ekonomie, prof Abhijit Banerjee en prof Esther Duflo, aangebied is. 

Dié Amerikaanse egpaar werk al vir meer as 15 jaar saam met die armes in lande vyf vastelande om die spesifieke probleme wat met armoede gepaard gaan te verstaan en werkbare oplossings te vind.

Die Kanselierslesing, wat in die Adam Small-teater op die Stellenbosch-kampus aangebied is, was deel van die Nobel in Afrika-simposiumreeks, wat kennisproduksie en navorsingspotensiaal op die vasteland ten toon stel.

Die US se kanselier, oudregter Edwin Cameron, het gesê hy is trots op die Universiteit en die instelling se prestasies. Hy het beklemtoon hoewel Suid-Afrikaners baie het om te vier ná dertig jaar van demokrasie, daar ook rede is om te besin oor voortslepende probleme soos regeringskorrupsie en armoede. “Ons uitgelese gaste word internasionaal geloof, bekroon en vereer omdat hul teorie? hulpmiddels vir armoede aanspreek,” het Cameron in sy verwelkomingstoespraak gesê.

Prof Wim de Villiers, Visekanselier en Rektor, het genoem dat die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) die eerste instituut buite Skandinawi? is wat namens die Nobelstigting ’n Nobel-simposium aanbied sedert die simposia in 1965 ge?nisieer is. “Dit is werklik ’n eer dat sulke gesiene wetenskaplikes in ons simposium optree en hul insigte en ervarings te deel,” het De Villiers gesê. Hy het die belangrikheid van intellektuele belegging in Afrika beklemtoon, gegewe die vasteland se groeiende en jong bevolking. De Villiers het ook klem gelê op die Universiteit se rol in die benutting van kennis vir die verbetering van die mensdom, veral vir die vooruitgang van Afrika en sy mense.

Poor Economics herbesoek

Die twee sprekers is deur prof Ingrid Woolard, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die US, bekendgestel. Sy het verwys na die belangrike bydraes wat Banerjee en Duflo op die gebied van armoedeverligting en ontwikkelingsekonomie gelewer het. Deur hulle werk by die Departement Ekonomie aan die Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT) se Abdul Latif Jameel Poverty Action Lab (J-PAL) het hulle ’n nuwe benadering bekendgestel om betroubare antwoorde te kry oor die beste manier om armoede te beveg.

Vir die doel van die Kanselierslesing het Banerjee en Duflo hul grensverskuiwende boek, Poor Economics wat in 2011 gepubliseer is, herbesoek. Dié boek voer aan dat ’n groot deel van die beleid teen armoede oor die jare misluk het weens ’n onvoldoende begrip van armoede. “Een van die sentrale temas in die boek is die belangrikheid daarvan om armes as rasionele besluitnemers te verstaan wat deur persoonlike omstandighede beperk word,” het Woolard verduidelik.

“Deur die kompleksiteit van die dinamika van armoede te ontrafel, pleit hulle vir konteksspesifieke ingrypings. Daarbenewens het Poor Economics die doeltreffendheid van verewekansigde kontroleproewe beklemtoon en die uitwerking van sosiale programme en beleidsingrypings ge?valueer. Ek dink dit sê baie oor Abhijit Banerjee en Esther Duflo dat hulle vanaand nie slegs gekies het om ’n oorsig te gee van wat hulle geleer het sedert Poor Economics verskyn het nie. Hulle het eerder gekies om te praat oor wat hulle reg gehad het, wat hulle verkeerd gedoen het en waar hulle die bal heeltemal misgeslaan het. Ek dink dit spreek van ware intellektuele weetgierigheid, nougesetheid en nederigheid.”

Banerjee was eerste aan die woord. Hy het vordering om armoede te bekamp en gesondheid wêreldwyd te verbeter, bespreek, terwyl hy ook uitdagings soos die COVID-19-pandemie en die belangrikheid van aanpassing by klimaatsverandering aangespreek het. “Wat ons nou in die gesig staar, is ’n wêreld wat nie net ryker is nie, maar ook banger is vir veral klimaatsverandering, waar ernstige armoede miskien minder problematies is, maar gesondheidskrisisse ’n groter probleem kan word,” het hy gesê.

Banerjee het die belangrikheid van pasgemaakte onderwysbenaderings beklemtoon en gesê navorsing het getoon die grootste dryfveer vir verandering in onderwys is om kinders op individuele vlak te onderrig, eerder as om ’n een-grootte-pas-almal-benadering te volg. Navorsing dui daarop dat die verbetering van pedagogiek en die betrokkenheid van ouers by hulle kinders se opvoeding tot beter leeruitkomste kan lei.

Banerjee het ten opsigte van onlangse navorsing in gesondheidsingrypings opgemerk dat baie mense in arm gemeenskappe gesondheidstelsel wantrou. “Dit blyk een van die groot kwessies te wees, want dit is duidelik dat tensy mense voorkomende stappe doen, dit baie moeilik is vir die gesondheidstelsel om resultate te lewer. Ons het voorgestel dat dit ’n probleem is wanneer daar verduidelik word waarom mense nie behandeling kry nie. Maar ek dink wat die latere literatuur baie doeltreffend reggekry het, is om aan te dui dat die rede die gebrek aan vertroue is.”

Een aspek wat hulle oor die hoof gesien het weens onvoldoende data vir Poor Economics, was die uitwerking van mikrokredietprogramme op entrepreneurskap. Aanvanklik was sommige wetenskaplikes skepties oor die idee dat mikrokrediet kan help om mense uit armoede te lig, maar nuwe navorsing het getoon dat sommige mense voordeel getrek het uit toegang tot krediet, het Banerjee gesê. In Hyderabad, Indi?, het hulle navorsing bevind dat “gung-ho entrepreneurs” – huishoudings wat reeds 'n onderneming bedryf het voordat mikrofinansiering in die prentjie gekom het – blywende voordele toon wat mettertyd toeneem.

“Toe ons hierdie mense herbesoek en ons noukeuriger na langtermyndata gekyk het, kon ons sien dat daar mense was wat regtig voordeel getrek het uit toegang tot krediet.” Banerjee het gesê resultate toon dat heterogeniteit in entrepreneursvermo? belangrik en blywend is. Vir talentvolle, maar lae-welvaart-entrepreneurs, kan korttermyntoegang tot krediet inderdaad ontsnapping uit ’n armoedestrik bewerkstellig.

Duflo, Banerjee se eggenote en medestigter van J-PAL, het gefokus op vergissings in hulle denke oor armoede toe hulle Poor Economics geskryf het. Sy het afgeskop deur die weglating van sosiale beskerming te bespreek, en het die toenemende aanvaarbaarheid en groei daarvan in lae-inkomstelande sedert die boek verskyn het, beklemtoon. Duflo het navorsing oor om begunstigdes vir maatskaplike beskermingsprogramme te teiken, verduidelik. Sy het verwys na die uitdagings om die kwesbaarste bevolkings te identifiseer en te bereik.

In baie lande blyk dit dat die verskaffing van kontant eerder as voedselhulp meer doeltreffend is om voedselsekerheid te verbeter, aangesien dit huishoudings in staat stel om voedsel by plaaslike markte te koop en plaaslike ekonomie? te ondersteun, het Duflo opgemerk. Sy het gesê navorsing wys dat mense verkies om te werk eerder as om net kontant te ontvang, wat ’n positiewe uitwerking op mense se geestelike en fisiese gesondheid het.

Gender en klimaatsverandering

Nog ’n aspek wat hulle nie in detail in Poor Economics aangespreek het nie, is gender, het Duflo uitgewys. “Ons het meestal gepraat oor gender in die hoofstuk oor familie, waaroor ek terugskouend nogal sleg voel omdat dit vroue terug in die huis plaas, en dit is presies waar hulle nie wil wees nie. ’n Groot aantal vroue wil werk, maar hulle staar baie uitdagings in die gesig. In Indi? wil ’n geskatte 100 miljoen vroue werk, maar weens sosiale norme kan hulle nie – ’n botsing tussen tradisionele vroulike rolle en omdat hulle min agentskap in die huishouding het.”

Duflo het ook uitgebrei oor die ingewikkelde verhouding tussen inkomste, vroulike arbeidsmagdeelname en maatskaplike norme, met die klem op die uitdagings wat vroue in die gesig staar om werks- en huishoudelike verantwoordelikhede te balanseer. Sy het navorsingsbevindinge voorgelê oor die bemagtiging van vroue om hulle arbeidsmagdeelname te verhoog en die belangrikheid daarvan om werkstrukture aan te pas om vroue se indiensneming te vergemaklik, veral deur werk van die huis af toe te laat.

Duflo het ten slotte die dringende kwessie van klimaatsverandering aangespreek, wat sy erken ’n skreiende weglating in Poor Economics was. “Daar is geen hoofstuk oor klimaat in ons boek nie. Trouens, daar is geen hoofstuk oor die omgewing nie. Ons het dit net gemis. En natuurlik is dit ’n ietwat van ’n verleentheid, gegewe die huidige situasie,” het sy bygevoeg.

Duflo skryf ’n beduidende deel van die verantwoordelikheid vir skadelike vrystelling aan welvarende lande toe. “As jy verbruiksvrystelling in o?nskou neem, is dit steeds die geval dat die meeste vrystellings in ryk lande geproduseer word, en op ’n manier is dit heeltemal verwronge – die 10% grootste vrystellers is verantwoordelik vir 50% van die vrystellings. Die meeste van hierdie mense is in ryk lande, beslis nie in Afrika nie. Daar is geen kompromie tussen die verligting van armoede en die stryd teen klimaatsverandering nie,” het Duflo afgesluit.

Sy het die behoefte aan ’n tweeledige benadering om armoede en klimaatsverandering gelyktydig aan te spreek, beklemtoon, asook die oneweredige uitwerking van klimaatsverandering op kwesbare bevolkings in streke soos Afrika en Indi?. Duflo het voorts die dringendheid van proaktiewe aanpassingstrategie? beklemtoon om die nadelige gevolge van klimaatsverandering teen te werk, en het die belangrikheid van navorsing en innoverende oplossings beklemtoon om hierdie wêreldwye uitdaging doeltreffend aan te pak.

Die Kanselier het die sprekers aan die einde van die lesing bedank vir hul insigte. “Dit was ’n verootmoedigende en insiggewende ervaring. Die risiko bestaan dat ons wêreld deur ideologie en eenvoud vernietig kan word. Julle het vanaand vir ons die mooiste kompleksiteit belig,” het Cameron gesê.

FOTO: Stefan Els