肆客足球

Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US nuwelinge amptelik verwelkom vir 2024
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 02/02/2024

?Die Universiteit Stellenbosch (US)-kampus het gegons van opgewondenheid tydens die amptelike verwelkomingseremonie, wat op 1 Februarie 2024 by die Danie Craven-stadion gehou is.

Duisende nuwelingstudente en hul vriende en familie het die geleentheid bygewoon. Dit het studente van die Tygerberg- en Saldanha-kampusse ingesluit. Ná die seremonie het studente aan die Dream Walk in Victoriastraat deelgeneem. Tydens dié geleentheid, wat in 2019 bekend gestel is, loop studente deur Victoriastraat om die amptelike begin van hul akademiese reis by die US te simboliseer.

Prof Wim de Villiers, US Rektor en Visekanselier, het gesê die amptelike verwelkomingseremonie is belangrik omdat dit nuwelinge se gevoel van wat die universiteitslewe behels, help vorm.

“'n Geleentheid soos hierdie is belangrik om nuwe studente 'n gevoel van identiteit te gee. En om 'n idee te kry van wat dit beteken om 'n Matie te wees," sê De Villiers.

Beide De Villiers en Phiwokuhle Qabaka, die Studenteraad (SR) se Voorsitter vir 2024, het aan nuwelinge benadruk hoe belangrik dit is om die US se waardes as 'n padkaart vir hul tyd by die Universiteit te gebruik.

“Uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek, billikheid. Gebruik hierdie vyf woorde as jou gids in alle omstandighede. Dit sal jou herinner dat jy hier hoort. Die idee dat die Universiteit Stellenbosch net 'n plek vir 'n sekere groep mense is, is lankal iets van die verlede. Hierdie plek is joune," het De Villiers gesê.

Qabaka het oor die US se geskiedenis van uitsluiting gepraat, maar waardeer die stappe wat die Universiteit geneem het om transformasie te bevorder.

“My ervarings binne hierdie instelling het my help maak wie ek is en steeds word, 'n trotse swart Xhosa-vrou. Die woorde van ons Visekanselier herinner ons voortdurend daaraan dat ons universiteit nie 'n Engelse, IsiXhosa of Afrikaanse instelling is nie, maar 'n multikulturele, veelrassige en veeltalige universiteit, waar studente uit alle vlakke van die samelewing verwelkom word – ingebed in eenheid."

De Villiers het ook aan die begin van sy toespraak melding gemaak van die voortgesette ondersoek na die items wat in twee kamers van die Wilgenhof-koshuis gevind is. Hy het studente en hul ouers verseker dat die US verbind is tot studente se veiligheid.

“Die veiligheid en welstand van ons studente is ononderhandelbaar. Die Universiteit het 'n beleid van geen verdraagsaamheid teenoor enige dade, gedrag of strukture wat bydra tot die vernedering van enige lid van die Universiteitsgemeenskap. Ons wil nie net hê julle moet veilig VOEL nie, ons wil hê julle moet weet dat julle veilig IS," het hy gesê.

Die amptelike verwelkomingsprogram duur tot 11 Februarie voordat klasse op 12 Februarie begin.

Klik hier vir die amptelike verwelkomingswebtuiste.?